Ons kinders hou van die Bybelteks: wie eerste is, sal laaste wees...
Natuurlik is dit heeltemal uit verband uit geruk :-), maar almal met opgroeiende kinders in die huis, sal weet dat dit tog baaaie belangrik is om die "pecking order" vas te stel. En watter beter hulpmiddel as om 'n Bybelteks daarvoor te (mis)(ge)bruik. Iemand is maar in sekere dinge altyd eerste en iemand anders altyd laaste. Jy sal nooit van die oudste sy reg om "eerste kind" te wees, kan wegneem nie. Jy sal ook nie die jongste se twyfelagtige bevoorregte posisie om "laaste" te wees, kan verander nie. Maar tussen-in lê daar 'n enorme mynveld van moontlikhede om die eerste en laaste posisie te probeer wen.
Natuurlik wil jy eerste roomys hê, tot jy agterkom mamma sien die bak is byna leeg en sy skep toe maar vir die laaste 2 bietjie meer op om dit nou maar regtig heeltemal leeg te maak.
Natuurlik wil jy laaste wees om bed toe te gaan, tot jy besef dat as jy eerste (en vroeg) gaan, is daar 'n slaaptydstorie!
En tussen-in moet jy soms ook besluite neem: vat ek die eerste koppie tee? Dan is dit nog nie so sterk getrek nie. Wag ek vir laaste met kos opskep omdat dit dan nie meer so vreeslik warm is nie? Dan is die grootste stukkie hoender dalk al gevat. Keuses, keuses, keuses!
Oor eerste en laaste is daar vir my as mamma ook 'n ander dimensie: met ons oudste (seun) beleef jy alles as eerstes. Eerste woorde, eerste treetjies, eerste skooldag. Ons is bevoorreg om as tweede kind 'n dogter te hê, want dit het in 'n mate ons gevoel van eerstes langer gerek: eerste poniestertjie, eerste blommemeisierokkie, eerste (durf ek dit sê?) bra!
Maar na die tweede, besef jy dat jy lewenslank opgewonde sal wees oor alle eerstes en eerste-keer-ervarings. Maar jy besef ook dat elke kind se unieke persoonlikheid bydra tot die unieke manier waarop jy dinge steeds weer ervaar: die soveelste "eerste" skooldag of die soveelste spelling-olimpiade by die laerskool. Elke kind is opgewonde oor sy eie eerstes en die opgewondenheid is aansteeklik. Ja sowaar, ons was steeds baie opgewonde toe Xander (nommer 4) sy eerste tand gewissel het!
En dan kom daar 'n dag wat jy gekonfronteer word met 'n laaste. En was dit nie 'n groot en onaangename skok-ervaring nie? Dat eerstes en laastes eintlik die twee kante van dieselfde muntstuk is, weet jou kop, maar jou hart het so bietjie (gerieflikheidshalwe) daarvan vergeet. En dan breek die dag aan:
Ons jongste (laaste) se laaste pretloop by die speelgroepie. Na 'n verbondenheid met Karalie Karool Speelskool vir 14 jaar, is dit die laaste keer wat ek een van ons kinders na die "parkie om die hoek" bring om "vyf keer om die veldjie te loop" sodat daar fondse ingesamel kan word vir nuwe speelgoed koop en vir die konsert. Die laaste keer wat ek saam met tannie Susan en die mammas kan piekniek hou onder die groot koelteboom. En saam met hierdie laaste keer, was daar sommer 'n onaangename eerste: dit het gereën! Nie hard nie, net so 'n regte ou Kaapse misreën... Maar dit het die piekniek in die water laat val en daarmee saam het die besef gekom dat Jorienke en ek dus vorige jaar vir die laaste keer gepiekniek het, en dit nooit besef het nie!
Dit word dus ook die laaste speelgroepie-konsert waarin een van die Van der Lindentjies sal deelneem. En so begin ek almeer besef dat daar met jou jongste kind soveel laastes gaan wees. En dit het my weer laat besluit: geniet van alles! Geniet van elke aktiwiteit waarby jy as ouers saam met jou kinders betrokke kan en mag wees. Geniet van elke oomblik wat jy saam met jou kind iets kan deel. Want laastes maak seer en jy weet boonop nooit presies wanneer dit die laaste keer sal wees nie.
'n Diepe vandag - maar beslis 'n boodskap wat ek vir myself en vir julle, my geduldige lesers, op die hart wil druk: koop die tyd uit!
Aan die hardloop in die reën... |
Net gou tel hoeveel lekkertjies het ek nou...
|
Comments