Skip to main content

Konsert-tyd

Karalie Karool 2012
 
Gister was 'n besonderse dag.  Gistermiddag het ons oumagrootjie begrawe.  Dit was die laaste ding wat ons nog vir haar kon doen, alhoewel dit haar waarskynlik onaangeraak gelaat het - sy is TUIS.  Sy is gelukkig.  Sy is veilig.
 
Na die begrafnis en 'n baie mooi, roerende diens, het ons net vir 'n oomblik of wat huis toe gegaan - eintlik net lank genoeg dat ons aktrise (lees drama queen) haar kostuum kon aantrek.  Vir die eerste deel van die speelgroepie-konsert was sy die koei, daarna het sy gou van die verhoog af geglip en 'n gedaanteverwisseling ondergaan  (geheimpie, sien later...)
 
Oumagrootjie was vir jare deel van ons lewe as gesin - sy het 6 jaar in die woonstel agter op die erf gewoon.  En in daardie 6 jaar het sy heelwat meegemaak wat Karalie Karool Speelskool betref - ook heelwat konserte!  Daarom voel dit half gepas (al klink dit dalk vreemd) dat ons nou ook ons laaste Karalie Karool Speelskool konsert gehad het. 
 
Die tema was Plaas en "tannie" Susan (speelgroepie-juffrou) se dogter Sanri het met haar kollega 'n poppekas opgevoer terwyl die speelgroepie-maats tussen-in sing en hul bewegings doen.  Baie oulik, baie mooi uitgedink en baie goed versorg.  Binne 'n halfuur was die konsert verby - en daarvoor het hulle dan die heel jaar liedjies aangeleer en die afgelope 2 weke verskeie oefeninge in die kerksaal gehad.
 
Dis heerlik om ons verbindtenis met Karalie Karool speelskool na byna 14 jaar op so 'n hoë noot af te sluit.  Almal van ons was daar.  En vir (tannies) Susan, Christa (skoolhulp) en Diana (musiekjuffrou) was dit heerlik om die Van der Lindentjies almal bymekaar te sien.
 
Nou bly daar nog net twee dinge oor:  bedankings en foto's.  Dankie vir ons Hemelse Vader wat Susan op ons pad geplaas het - 'n baie besondere verhaal (vir 'n ander keer miskien).  En dankie vir Susan, Diana en Christa vir al die jare se werk, opvoeding, onderrig, liefde, geduld en begeleiding van die vyf Van der Lindens.
 
Geniet die foto's...
 

"Jersey koei, jersey koei, het jy baie melk?"
(op die wysie van Baba Black Sheep)


Die dekor

Willie en Wanda - die poppekas-karakters

Die koei en een van die varkies

En skielik was die koei weg en was daar 'n hennetjie
in haar plek op die verhoog!

Saam met van die ander diere in aksie - regs van
Jorienke is een van die hase.  Regsonder in die hoekie
steek die koppie van die uil uit.

"Daar's 'n hoender wat 'n eier nie kan lê nie... dis die haan
wat op die kerk se toring staan..."

Daniël die haan, was een van die jonger maats, Jorienke
het hom letterlik onder haar vlerk geneem...

Die boer se ou tjor...

Die twee uile wat so lekker "hoe-hoe" dat al die plaasdiere
gaan slaap het.

"groepfoto" - perdjies, hasie, hennetjie, uil, eendjie, boer
en varkies.

Jorienke, vir oulaas

Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...