Skip to main content

Ma Marja 70

 
Sewentig... dit moet gevier word!
 
Op 10-11-12 mog ons Ma se 70ste verjaarsdag vier.  Hoe doen 'n mens dit dan? Dit was nie moeilik nie...  J begin met uitgebreide ontbyt van eie keuse saam met vriendinne by Klein Joostenberg:
 
Links bo en onder: French toast en Roereier met Franschhoek salm.
Middel: Tuisgemaakte granola en plaas yoghurt
Regs bo en onder: Gevulde omelet en gevulde croissant

Ons kon heerlik buite sit, 'n mooier dag kon ons nie vra nie!

Gwen bekyk haar bestelling van French toast...

Christine het die croissant aangedurf!

Daarna is dit tyd vir braai met familie, ons het dit maar by ons huis gedoen, dan kon die kinders lekker swem en hulself met hul eie dinge besig hou terwyl die grootmense op die stoep kuier.


Torinkie in die swembad:  Herno, Wicus en Xander... kyk
hoe lekker skyn die son nog!

Gelukwense en geselligheid op die stoep.

Oom Jaap het spesiaal uit Holland kom kuier vir sy
 "jongste sussie" se 70ste verjaarsdag.

Jan en Ina, Krijn en Louise was ook by die party.

Xander en oom Jaap speel op die tablet... Wel oom Jaap
word vakkundig deur Xander onderrig!
By verjaarsdag vier, hoort ook geskenke oorhandig.   Ek was al van Meimaand af besig met ons geskenk vir Ma: 'n boek met foto's van haar 10 kinders (5 eie + 5 aangetroud) en 10 kleinkinders.  Ek het 'n goeie program van Fuji Film op my rekenaar - ek het dit al met welslae vir 5 ander boeke gebruik.  Nadat jy die boek "ontwerp en uitgelê" het, kan jy dit per internet na Fuji Film stuur en hulle druk die boek dan volgens jou spesifikasies.  Tegnologie is wonderlik - behalwe as dit jou in die steek laat!!  Ons geskenk was nie die 10de November klaar nie, die boek het telkens nie volledig by Fuji Film oorgekom nie.  En ek kon dit ook nie op 'n CD laai en by die winkel inhandig nie, dit blyk dat my program verouderd is en die winkels se tegnologie te ver gevorderd om dié boek te kan druk...  Maar eind goed, als goed.  'n Beter geskenk kan 'n ma en ouma sekerlik nie van haar nageslag kry nie... 

Geniet die boek, liewe Ma, en al die mooi herinneringe wat gepaard gaan met 10-11-12!  Baie dankie vir die heerlike dag-lange feesvierings!

Alhoewel 'n week laat, was Ma tog steeds baie in haar
noppies met haar geskenk.

Nietemin, 'n baie groot en aangename verrassing!
Anke en Wicus heg hul goedkeuring hieraan.

In memoriam:  Oumagrootjie sou saam fees vier, maar sy mog ons die dag voor Ma se verjaarsdag vooruit gaan na die ewige Fees.  Ons is lief vir Ouma(grootjie) en mis u!

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...