Skip to main content

GLB 1977-2017



Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge.
Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het.

In die middae het mammas sop en broodjies gebring, die tafels uitgesit en is daar sommer op enige hoop bakstene of grondhope middagete genuttig. Vir ons jong klomp was dit natuurlik ’n fees as oom Jan van Orizande die voorlaaier se bak gestel het dat ons dit as bankie kon gebruik om op te sit met ons komme sop. En soos Erik, ons huidige skoolhoof, tereg opgemerk het, was dit nie sop nie, maar soep. Die Hollikaans (mengsel van Afrikaans en Hollands) was sommer nog baie sterk in daardie jare. “Maar dis beslis geen skool vir Nederlanders nie! Dis ’n Afrikaanse skool met Afrikaans as hooftaal!”
Ek onthou hoe ek en ander skoolmaats van heinde en ver elke dag skool toe gebring is, of sommer op eie houtjie met treine en busse uit Goodwood, Eversdal, Kraaifontein en Penhill skool toe gekom het. Ons was so 7 of 8 kinders in die beginjare wat beurtelings uit Penhill deur ons Pa’s skool toe gery is. In die middae moes ons die bus haal voor die Outspan Hotel in Strandweg tot net voor Kuilsrivier se polisiestasie. Daar het een van die mammas dan vir ons gewag om die volgende been huis toe te ry, meestal met die Nautas se Chevrolet Kommando of Pa se Mazda bakkie met die bankies teen die kajuit en aan die kante. Daardie halery in Kuilsrivier is dan ook meestal benut om die laaste kruideniersware, melk en groente by die boer te gaan optel. Elke tweede Vrydag was ekstra spesiaal, want dan was dit die beurt van die biblioteek in Kuilsrivier. Stapels boeke moes dan ingegee word, nuwe boeke uitgesoek word, en alles tussen boektasse, melk en ander inkopies uit die “dorp” ’n plek kry terug Penhill toe.
Ek dink die meeste van ons wat deur hierdie skool is, besef nie aldag die moeite en opofferings wat ons ouers gemaak het om hierdie ononderhandelbare verlengstuk van die huislike opvoeding te bewerkstelling nie. Dit was nie net die kapitale uitleg om die gebou te koop en om te skakel na ’n funksionele skool nie, maar ook die lopende koste om die skool aan die gang te hou. Ek kan net dink hoe daar in vergaderings gestoei is om die begroting te laat klop en twee onderwysers se salarisse en ’n skool se bedrysuitgawes te balanseer met skoolgelde, donasies, ledegelde, en basaars. Hulle moes seker by tye gedink het dis ’n saak van onmoontlikheid, gesien in die lig dat die Vereniging reeds in 1955 gestig is om hierdie skool op te rig tot voordeel van hulle kinders se gereformeerde opvoeding en onderrig.
En tog het die Here dit geseën en 40 jare later is die skool nie net daar vir ons gemeente se kinders nie, maar vir elke ouer wat begeer om hulle kinders gereformeerd uit die Woord van God te laat onderrig. En nie beperk tot die vakke Bybelonderrig en kerkgeskiedenis nie, maar in elke vak en taal wat aangebied word, word die skepping en sorg van die Here aan ons kinders geleer.
Voorwaar iets om die Here voor te dank.

Comments

Popular posts from this blog

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...