Skip to main content

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge

A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us...

In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke...

Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer het.  Daar is 6 lede in sy span  (almal seuns) en saam het hulle tweede geëindig in hierdie kompetisie. Dit beteken dat hulle uitgenooi is na die Wes-Kaapse uitdunne vir skole skaakspanne.  Dit vind in die September vakansie plaas.  Indien hulle as span hier goed vaar, sal hulle genooi word na die SA Kompetisie en sal dit beteken dat hy en sy spanmaats WP sal verteenwoordig.  Om hierdie mooi prestasie te kroon, het hulle span ook 6-0 gewen in die jaarlikse Interskole skaakwedstryd teen Bellville Hoërskool se aartsvyand  D F Malan.  Wat die lekkerste is van hierdie gebeurtenisse, is dat die span hulle wen opgedra het aan hul skaakjuffrou, juffrou Lettie, wat kort gelede 'n skoueroperasie moes ondergaan.  Sy is die skakelpersoon vir die twee skaakspanne by die skool, nie eens hulle afrigter nie!  En nou maak die seuns planne om by haar te gaan kuier ...  As dit nie 'n ouer se hart bly maak nie, dan weet ek nie wat wel blydskap sal bring nie!

Maricia het hokkie gespeel in die afgelope Interskole wedstryd teen D F Malan.  Haar span het 2-0 gewen.  Sy het die eerste punt aangeteken en danksy 'n baie mooi lopie langs die lyn af en 'n akkurate pass kon haar spanmaat die tweede doel aanteken.  D F Malan het 'n baie sterk hokkie-teenwoordigheid en net een ander span van die 12 spanne van Bellville Hoërskool kon hul teenstanders wen.  En dan staan jy langs die hokkie astro-veld met trane in jou oë oor jul dogter wat haar hart uitspeel en wat die seisoen afsluit met die meeste doele aangeteken vir haar span, en dan hoor jy - heel onverwags en onbedoeld - hoe Maricia vir baie mammas en pappas langs die veld 'n voorbeeld is van 'n speelster wat nooit tou opgooi nie, wat altyd vriendelik is, haar beste gee en dit met eintlik net een en 'n halwe hand tot haar beskikking.  Watter vreugde en dankbaarheid is daar dan nie in 'n ouerhart nie?

Wicus en sy sokkerspan het deurgedring na die semi-finale van die Cup wedstryde vir 2013.  Met die verskriklike swaar koue fronte wat ons die laaste tyd gehad het (en ons is nou weer in die midde van een van daardie - voorspelling is 40mm reën in 12 uur, windspoed tot 110km/h), is die wedstryd uitgestel omdat die velde oorspoel het.  Afgelope Saterdag na die gewone liga-wedstryd, sê coach dat die semi-finaal nou Woensdag gespeel sal word. Wicus het dadelik in sy beste skool Engels vir ons span se afrigter laat verstaan dat Woensdae buite die kwessie is.  Woensdae is Mosterdsaadjie (jeugvereniging) en katkisasie-aand by ons kerk,  En alhoewel hy nie geweet het wat dit alles in Engels is nie, het hy volgehou dat dit church stuff is en dat hy en sy 3 maats nie op Woensdagaande beskikbaar is nie.  Selfs nie toe coach aanbied om die reverend te bel, het Wicus toegegee nie...  En die uiteinde?  Ons weet nie wanneer die wedstryd ingehaal gaan word nie, maar ons weet wel dat dit nie op 'n Woensdagaand sal wees nie...  Wicus, die stil een, die een wat lyk of hy nie altyd bewus is wat om hom aangaan nie...!  Ons is dankbaar dat ondanks ons eie swakheid en nie altyd ewe goeie voorbeeld, dit wat belangrik is, wel vir hom ook belangrik is!

Xander het Saterdag deelgeneem aan die Internasionale Tygerberg Eisteddfod.  Sy deelname het hom 94% in die sak gebring...  En 'n mooi kompliment van die beoordeelaar en van sy juffrou - hy is "a natural".  En toe hy terugkom, moes hy sy eie opgewondenheid demp en beteuel en met 'n maatjie speel wat aan Asperger-sindroom ly.  Xander het nie verstaan wat aangaan nie, maar hy het besef die maat is anders as sy ander maats (behalwe dat hy ook bietjie ouer is).  En hy het meer as een maal homself oorwin deur nie toe te gee aan trane of woede nie, maar om op 'n mooi manier tog met die maat gespeel - wie sal nie dankbaar, bly en trots wees op 'n sewe-jarige met 'n baie sterk wil en gevoel van fairness om so te kan optree nie?

Soos gesê, Jorienke het haar weinig aangetrek van al die emosionele, logistieke en sosiale drama wat om haar afgespeel het.  Sy het haar gang gegaan, met haar maats gespeel en die Vrydag van Interskole teen D F Malan sonder te veel kla en mor vir 6 en 'n halwe uur langs die astro-hokkieveld gesit, sodat mamma en papa na Maricia en Herno se wedstryde kon kyk.  En twee ure daarvan was in die gietende reën, toe haar broer en suster hul skool se eerste spanne wou ondersteun!

Om af te sluit, gister het Maricia saam met 14 van haar klasmaats aan die Internasionale Tygerberg Eisteddfod deelgeneem as spreekkoor.  Hulle Afrikaanse juffrou het hulle afgerig.  Die leerders moes van die hoërskool na die laerskool in Kraaifontein waar hulle moes deelneem, vervoer word.  Ons het aangebied om 7 van die leerders saam met Maricia daarheen en terug te vervoer.  Die spreekkoor het met 'n allemintige 96% daar weggestap....  By die skool teruggekom, groet ons die juffrou en sê dankie vir die ekstra ure en moeite gedoen om die kinders sulke oulike blootstelling te kan gee.  Maricia se Afrikaanse juffrou is Herno se registerjuffrou, sy ken dus twee van ons 5 kids (en weet dat daar 5 is!).  Haar antwoord was: "Ek wil vir julle dankie sê, dis 'n voorreg om met twee sulke fynopgevoede kinders soos Herno en Maricia te mag werk." 

Wel... Ons beker loop oor... Ons tel ons seëninge, in vywe!









Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...