Skip to main content

(Ou) ma (grootjie)

Ons liewe Oumagrootjie, sy was sterk volgens Ps 90...
 
Ouma(grootjie) mog 91 jaar oud word.  Laasjaar mog sy haar 90ste verjaarsdag vier.  Haar kinders van Nederland en Kanada was hier om dit saam te vier.  Ouma se nageslag het toe reeds 103 getel.  Ek kon dit - danksy die wonderlike tegnologie van digitale fotografie en internet - vir ouma in 'n boek saamstel.  Hierdie boek was die laaste 13 maande van ouma se lewe, haar trots.  Sy het so graag met haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gespog.  Vir elkeen was sy lief ongeag die foute en gebreke wat daar ook was.  Vir elkeen het sy 'n goeie woord gehad; sy het eintlik nie die begrip "aangetroud" of "skoon(seun/dogter)" geken nie.  Jy was haar kind / kleinkind en basta met "skoon-" of aangetroud. 
 
Na die opstel van die boek, mog 3 agterkleinkinders by die getal gevoeg word.  En net voor ouma se sterwe, mog sy hoor dat daar nog 'n agterkleinkindjie op pad is.  Van al haar nageslag, het ouma slegs 'n kleinseun voortydig aan onnatuurlike oorsake aan die dood moes afstaan - toe sy die rype ouderdom van 86 bereik het.
 
Ons kan vele bladsye vol skryf oor ouma(grootjie), haar gesegdes en haar voorbeeld van verdraagsaamheid en onvoorwaardelike liefde.  Ons sal al hierdie dinge in ons harte bêre soos kleinnode, en ons sal aan haar dink elke dag as die gelukkige een wat ons voor gegaan het na die Ewige Fees.  Sy het die laaste jare so daarna verlang om huis toe te gaan en na 42 jaar weduwee wees, gun ons dit haar van harte.  Ouma se lewe van 91 jaar (waarvan 54jaar in Suid-Afrika), was geseënd in vele opsigte.
 
'n Jaar na die groot fees van 90 jaar, is haar kinders van oorsee weer hier.  Saam met verskeie van hul eie kinders en ook een agterkleinkind het hulle die lang vlug aangepak. Hierdie keer om ouma(grootjie) te begrawe.  Miskien nie 'n ooglopende rede om fees te vier nie - maar tog het ons!  We shall always celebrate her life even now she's no longer with us. And this is what we did on Friday 16 November.

 
Oumagrootjie met Xander, Wicus, Herno,
Maricia en Jorienke ( Oktober 2011)

Ouma geniet van die nuwe stoel wat haar kinders en
kleinkinders as geskenk gekoop het toe sy 90 geword het.

Tannie Anja uit Kanada, die tweede keer in 13 maande
vermoënde reis van Edmonton na Kaapstad.
Maar ons is baie dankbaar dat ook sy hier kon wees.
Met Wicus, Herno, Xander, Jorienke en Maricia

Ouma se 3 dogters: Anja, Ina en Cora. 
Elkeen woon op 'n verskillende vasteland! 
(Aanvanklik afkomstig uit Nederland woon hulle nou in
Kanada, Suid-Afrika en Nederland).

Ouma se ses kinders:  Ina, Henk, Koos,
Anja, Herman en Cora.  (Nie op volgorde van
ouderdom nie, hoor!!)
 


Oupa se naamgenote:  Herman Hendrik x6 en een Hendrik Herman.
  Soos dit nou staan, kort ons net een Herman Hendrik, hy is nog
maar 4 en het by mamma in Pretoria agtergebly. As mens net die
voorletters vat... HH x7, dan is dit werklik een groot grap...!

Oumagrootjie se oudste
agterkleinkind saam met
een van die jongstes...  Herno
is Martin se (kameel)perdjie.


Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...