Skip to main content

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word.

Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees.

Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie.

Kwart voor elf was ons by die adres van Christine se skoonouers wat so gasvry was om ons te huisves vir solank ons in Mosselbaai wou wees. Na die aflaai van die twee meisiekinders is ons reguit deur hospitaal toe.

Sonder moeite kon ons onverwyld deurstap na die intensiewe sorgeenheid, ons hande was, selfone afsit, maskers oor die neus en mond plaas en langs Pa se bed gaan sit. Hy is toe vas aan die slaap as gevolg van anti-spanning medikasie wat hy reeds ingeneem het! En het ons en die verpleegsusters nie gesukkel om hom wakker te kry nie. Maar uiteindelik het hy sy oë oopgemaak, wel nog verward, maar al gou by sy positiewe om ons te herken. Sy eerste vraag aan Christine was of ons al daar was!

Ons kon rustig met hom praat en kon hy sonder huiwering sy afhanklikheid van die Here getuig, watter kant dit toe ook sou opgaan. Ons het saam gedeeltes gelees uit Jesaja 43:1-5: "... Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep, jy is myne! ... Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou ...". Uit Jesaja 49:16 lees ons dat die HERE ons in die handpalms gegraveer het. In die King James vertaling kom dit mooier uit waar daar staan: "I have graven thee upon the palms of my hands ...".

Ook Hebreërs 13:5b-6 was bemoedigend en troosvol: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my 'n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal 'n mens aan my doen?". As afsluiting was die bekende en vir Pa geliefde woorde van Psalm 121 'n weerklank van sy eie oortuiging, naamlik dat sy hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.

Die operasie het tot ongeveer 19h00 geduur en die dokter was tevrede met die prosedure. 'n Derde aar is gevind wat nog nie krities was nie, maar tog ook vervang is noudat die geleentheid hom voorgedoen het.

Vannag het Pa allergies gereageer op die bloedverdunningsmedikasie en kleiner are het bloeding binne die borskas veroorsaak. Daarvoor was hy weer vir 'n uur in teater, maar die afloop daarvan was ook goed.

Ons sal Pa vanmiddag, as dit goed is 15h00, kan besoek en daarna uitsien om met hom die Here te dank vir sy goedheid en sorg. Ons laat ons oor aan die wil van die Here wat ons gebede tot nou toe verhoor het.

Verdere berigte sal nog volg; dus almal wat inskryf op ons gesinsblog sal outomaties dan berig kry as daar nuwe berigte is.

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...