Skip to main content

Pa van der Linden weer in ICU


Gisteroggend is Pa vanaf die gewone saal terug na ICU oorgeplaas. Dokter van Rooyen het voorkomend opgetree omdat die mediese versorging in die gewone saal volgens hom nie na wense was nie.

Vanoggend het ons nuus gekry dat weens vog op die longe en beskadiging aan die niere, moes Pa aan 'n asemhalingsmasjien gekoppel word om sy asemhaling en suurstofvlakke aan te help. Hy is tans onder sedasie as gevolg van die pype.

Dié wending in Pa se herstel (of dan gebrek aan herstel) is nie noodwendig lewensbedreigend nie, maar dit wil nie sê dat hy buite gevaar is nie. Dit kan enige kant opgaan. Hoe langer dit nodig is om hom aan die asemhalingsmasjien gekoppel te hou, hoe moeiliker sal dit vir sy longe wees om die asemhaling weer self oor te neem.

Dit is dus wel 'n kritiese situasie en hoewel Pa tans nie bewus is van besoek of meelewe nie, is ons as kinders (en Ma) op pad na Mosselbaai om naby hom te wees. Christine, Nico en hul twee dogters het reeds vanmiddag deurgery en behoort al daar te wees. Ronel is tans op pad uit Australië en hoop om Saterdag agtermiddag op George lughawe te land. Femmy vlieg uit Nederland en hoop om net na Saterdagmiddag op Kaapstad lughawe te land. Ma en ek sal haar optel en dan gelyk deurry Mosselbaai toe.
Dis jammer dat Alex nie nou kan afvlieg nie. Ons dink aan hom wat ook hierdie spannende en onseker tyd saam met Miranda moet verwerk. So ook Elsbeth en ons kinders wat vir eers tuis bly. Sy het dit ook nie maklik om alleen met die kinders die hele tyd in spanning afwag vir 'n volgende brokkie nuus, goed of minder goed. Ek is dankbaar vir my vrou wat soos 'n rots my ondersteun en selfs aanmoedig om naby Pa te wees.

Ons vertroue en berusting is by die Here wat ons enigste hulp is. Hy behoed en bewaar ons en weet vir elke moment in ons lewe wat goed vir ons is. Die beproewing wat ons elkeen nou deurgaan sal nie te veel wees nie. Die trane lê vlak, maar ons hoop is hoog.

Tot volgende keer. Ons sê dankie vir die ondersteuning en liefdevolle hulpaanbiedings.

Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...