Skip to main content

Pa van der Linden (jongste)

Christine en ek kon gistermiddag 15h00 die eerste keer Pa na sy operasie besoek. Hy het nog geslaap as gevolg van die narkose van twee teaterbesoeke en die pynmedikasie wat die oggend nog toegedien is.

Volgens die narkotiseur en die verpleegpersoneel was alles goed en dat dit nie abnormaal is vir Pa om so lank nog te slaap nie. Ons was 'n uur daar, maar moes teen die einde van besoektyd weer terugaan na ons gasadres.

Die kans was klein dat hy met die aandbesoektyd wakker sou wees; dus het ek besluit om teen 17h30 terug te ry Kaap toe. Die 380km tot by die huis sou ruim 4 ure reistyd in beslag neem en dit sou nie goed wees om eers die aand na 20h00 in die pad te val nie. Al het Elsbeth gesê dat ek langer kan bly as ek enigsinds gevoel het ek langer by Pa wou bly. Haar ondersteuning van die huis af met vyf kinders wat gery en gesorg en gereël moet word, is 'n wonderlike riem onder die hart.

Met 'n russtop in Riversdal vir die kar en my eie liggaam se innerlike versorging, het die reis voorspoedig verloop. Op een stadium het 'n strook toiletpapier voor die kar ingewaai, ek dog dis 'n spook of iets maar met dat ek die rem trap, besef ek die onskadelikheid van dié strook wit papier. Net voor half tien saans was ek veilig en behoue tuis met drie opgewonde oudste kinders wat voor in die tou gestaan het om hulle pa te groet. Die twee jongstes se gespring op die bed was nie minder uitbundig die volgende oggend nie!

Christine was vanoggend weer op besoek. Ek haal haar terugrapportering hiermee woordeliks aan: "... Hy was wakker, maar nog slaperig en deurmekaar. Ons kon met hom gesels - hy het geweet wie was by hom. Hy het vanoggend bietjie op sy bene gestaan, hy sit nou regop in 'n stoel vir die res van die dag. Vanaand sit hulle hom weer in die bed en dan weer in die stoel môreoggend.

Hy was baie dors toe ons daar kom, ek het toe vir hom 2 glasies water gegee om te drink. Hy het nog 'n suurstofmasker op, hy haal redelik swaar asem (dis as gevolg van die medikasie en narkose) - dit sal beter raak soos wat die medikasie uitwerk. Hy het met ons gepraat, maar hy is moeilik verstaanbaar. Hy kon goed sien sê hy, al lyk sy oë baie uit fokus.

Vanmiddag moet hy 'n entjie stap as hy wakker genoeg is, anders môreoggend. Hulle het gisteraand vir hom medisyne gegee wat hom uit sy slaap haal om te kyk of alles reg is (dit was) en het weer medikasie gegee om hom te laat slaap vir die nag. Die dokter en verpleegster lyk baie tevrede met sy vordering so ons moet nou maar geduldig wag dat Pa sterker word." Tot sover Christine se terugvoering.

Ons loof die Here saam met Dawid in Psalm 28: "Geloofd sy die HERE, want Hy het die stem van my smekinge gehoor. Die HERE is my sterkte en my skild; op Hom het my hart vertrou, en Pa is gehelp; daarom jubel my hart en sal ek Hom loof met my gesang." Ja, die Here is genadig in sy versorging en die verhoring van ons gebede.

Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...