Skip to main content

Graad 7-kamp

Lank, lank gelede het 10 gesinne by Mountain Breeze in Stellenbosch gaan kamp...

Dit was 'n geleentheid wat gou bekend gestaan het as die graad 1-kamp.  Die 10 gesinne was dié van wie die oudste kinders (wel in 7 van die 10 gesinne, by die ander 3 was dit 2 tweedes en 1 derde kind) in 2005 met hul graad 1-jaar sou begin. Die kamp is gereël deur 'n paar "nuwe" mammas wat graag 'n bietjie ondersteuning en raad by die meer (?!) ervare mammas wou kry en tegelykertyd die kinders se skoolloopbaan op 'n hoogtepunt wou laat begin.  Dit was so 'n groot sukses dat, amper sewe jaar later, die mammas besluit het dis weer tyd vir 'n kamp, hierdie keer 'n graad 7-kamp. 

Weereens het 10 gesinne kopgekrap om die dagboeke te laat klop en die begrotings te laat werk.  Maar uiteindelik kon ons op 11 November (ja, 11-11-11) die N1 aandurf na De Doorns, vandaar die R318 in die rigting van Montagu en dan weer regs afdraai na Protea plaas.  Hier het ons die dormitory gehuur vir die nag, slaapplek vir 46 mense.  Met 'n bietjie van 'n gestoei met die getalle (wat van 2005 se 47 gegroei het tot 55 in 2011), 'n paar pappas wat deur die kerkraad Pretoria toe gestuur is of moes werk, 'n paar oudstes wat moes leer vir matriek-eksamen, het ons ons getalle tot minder as 46 gekry.

En wat het ons gedoen?  Wel, gebraai (terwyl die winterweer dreigend nader gekom het), gekuier, gesing vir Ingrid wat verjaar het, roomys geëet (terwyl die temperature buite tot minder as 10 grade gesak het), gelag, vuurgemaak, gestap, in die dam geswem of geroei, gesels, weer geëet ('n lekker brunch) en sommer net in ons kampstoele rondgehang.  Het ons geslaap?  Wel, ek dink nie dis 'n vraag wat ek namens ander kan antwoord nie, kom ons hou dit by "ons het probeer".

Die kort en die lank van die kampstorie - ons kyk in dankbaarheid terug na die mooi jare wat ons kinders saam op GLB was, ons sien met vreugde hoe ons kinders , ondanks ons eie foute, onder die seën van die Here gefloreer het en ons kan nie wag om te sien wat hulle ervaring volgende jaar op hoërskool gaan wees nie. 

Van die oorspronklike graad 1-kamp, het Hanno intussen saam met sy ouers Pretoria toe verhuis.  Henriëtte het na die graad 1-kamp by ons aangesluit.  Die getal is dus weer 10.  Van die 10 gaan Carla na Stellenberg Hoërskool, maar die ander 9 gaan Bellville Hoërskool toe.  Hulle paaie skei dus nie regtig nie.  Maar nooit weer sal hulle so 'n hegte groep soos nou wees nie.

Ons kinders het nog die graad 7-afskeid (22-11) en die veldskool in die Sederberge (28-11 tot 2-12) as hoogtepunte voor hulle.  En daarna is die eerste fase van skoolgaan afgesluit.  Maar ons het nou weer tydens die kamp besef:  ons is nie alleen nie, ons het 'n wonderlike, troue, magtige Vader in die hemel.  Hy hou ons almal vas en seën ons bo verwagting en verdienste.  En hieraan kan ons almal vashou - die "nuwe" mammas het ervare geword by GLB, maar voel nou weer nuut by die hoërskool.  Die kinders het senior geraak by GLB, maar sal binnekort weer op die onderste tree van die leer moet staan.  Maar by al hierdie veranderlikes, staan onse God vas soos 'n rots, Hy het belowe en Hy verander nooit nie!

En alhoewel hierdie blog hoofsaaklik bedoel was om oor die graad 7-kamp te skryf, neem ons hierdie les as gesin ook ter harte.  En daarom kan ek sê:  Sewevanderlindens groet met nuwe moed...

Dormitory, slaapvertrekke bo
Protea Plaas is 'n werkende plaas

Die donker, koue weer van Vrydagaand


Een van die vyf damme op die plaas

Protea plaas se eienaars vul hul inkomste aan deur 'n
verskeidenheid van huisvesting op die plaas te verhuur.

Elke gesin het sy eie kos- en drinkgoed gebring...

Braai of gesels?  Alles deel van die pret!


Anneke, Julia en Jorienke - geen van hulle was in 2005
by die eerste kamp nie, maar dit het definitief nie
hulle pret by hierdie kamp bederf nie!

Tannie Ingrid skep roomys op
Kuier op die stoep rondom 'n vuurkorf - laasgenoemde
met dank aan oom Henk A!

Graad 7's het hul eie vuur in die sitkamer se jetmaster gemaak


Plaasdiere was 'n groot aantrekkingskrag
Weer die mooi huisie op die plaas by een
van die vele damme,
Satedagoggend- nou was dit mooi weer!

Oom Martin se Volvo het verander na Vol-vo, Boot-kamp
of Vol-by-Volvo as die opdraende dam toe te veel was

Soms het ons egter wel die opdraende met dapper en stapper
aangedurf:  vlnr Elsbeth, Jorienke, Lianne, Rianne, Martin en Julia

Brunch, Saterdagoggend

Die graad 7's van GLB 2011 - kyk die pragtige blou lug!

Die eienaars het 'n vrugtemandjie
vir ons reggesit - vrugte uit eie boorde. 
Jorienke het haar nie twee keer laat nooi nie.

Elke pappa het maar vir sy eie gesin
hul brunch gemaak

Uitsig van heel bo op die berg
(Herman was een van die pappas wat Pretoria toe was,
die foto's is geneem deur Dirmu - dankie vir die gebruik
van jou foto's DG,
en dat jy ons kinders ook afgeneem het!)
Posted by Picasa

Comments

Lengkeek Family said…
Baie dankie vir die lekker post. We wish we could have joined you, but it is wonderful to read about the wonderful time you had and to see the pictures. It looks like you made lots of special memories!

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...