En toe is dit uiteindelik 22 November... Na letterlik 10 maande se beplan, gesels, werk, vergader en koukus, mog die aand van die graad sewes se afskeid aanbreek. Ons het as 10 mammas en 10 leerders hard gewerk deur die jaar om fondse vir die aand in te samel, en het saam gevoel ons gaan die aand saam met die kinders en ander gaste geniet. Dus het ons 'n "spitbraai koning" ingehuur wat vir ons 'n fees voorgesit het, en ook die borde en messegoed verskaf het (en baie belangriker: gewas het!)
So nou-en-dan het die ouers sonder die kinders vergader en op een van hierdie geleenthede het ons as mammas vir die kids 'n verrassing gereël: hulle sou almal saam vanaf ons huis na die saal vervoer word in 'n ou Volkswagen-bussie, hule moes die bussie self versier met ballonne en blomme wat ons gemaak het. Een van die pappas het 'n ekstra nommerplaat gemaak vir die geleentheid en Simon (die chauffeur) het spesiaal 'n "boombox" in die bus gebou - soort van... Groot pret!
 |
Boombox |
 |
Johan van Renssen? Nee, John Lennon.... |
 |
Spesiale nommerplaat, dankie oom Berend! |
 |
V.l.n.r. Robert, Johan, Leandré, Carla, Mariska, Henriëtte, Carolien, Maricia, Erika en Monika |
Die kinders was almal baie oorspronklik aangetrek in hul "sixties-outfits"; vir my as onderwyseres het ek nogals die kinders se karakters in hul keuse van klere herken. Dis 'n oulike groep kinders en hulle het ook van die begin af saamgekliek as groep. Ons het dit reeds gesien op die graad een-kamp van jare gelede. En nou was dit tyd om op feestelike manier afskeid te neem van hul laerskoolloopbaan.
Ons het 'n nabygeleë sportklub se braaikamer gehuur en was reeds Dinsdagoggend van 10:00 af besig om die saal te versier en die goed reg te sit. Ou LP's is gebruik vir muurversierings, die programme is op ou plate geplak en die klub het selfs ou plate wat gebuig is tot bakkies, beskikbaar gehad vir die springmielies op die tafel.
Ons het bietjie tyd verspil toe ons per ongeluk die verkeerde glase met jellie versier het - ons moes ander glase gebruik! Nou ja, uiteinde is: sommige glase vir die pons het jellie-randjies gehad, en ander nie. As dit al is wat verkeerd loop op so 'n aand, dan is dit werklik 'n kleinigheid!
Die pappas was miskien nie so baie betrek by al die werk vir geldinsamel en beplanning nie, maar hulle het verseker hul kant gebring toe dit kom by geesvang - kyk hoe spoggerig lyk hierdie 6 (van die 10) pappas met hul sixites-klere - nie een van hulle was bewus van die sixties-era nie, alhoewel 'n aantal van hulle wel in daardie era gebore is... (sou nie weet wie nie...?)
 |
Cool pappas |
 |
Die kids voor in die straat nadat die kar klaar versier is, reg om die aand te begin |
 |
Wie loer daar? Robert-koel-soos-komkommer-Aartsma, wie anders? |
 |
Alle ouers en gaste op die trappe voor die saal wag opgewonde op die koms van die kinders |
 |
Ons pragtige oudste dogter, saam met haar (minder) mooi (uhm) ouers |
 |
Maricia se laaste glimlag met draadjies, met die rondskuif van die afskeidsdatums om by alle genooides se besige programme te pas, het dit so uitgekom dat die afspraak om haar draadjies af te haal minder as 12 ure na haar graad 7-afskeid geëindig het, was. Nietemin, ons dink sy het pragtig gelyk! |
 |
Koningskos - skaap van die spit, met gebraaide aartappels en uie en 'n verskeidenheid slaaie... en geen skottelgoed na die tyd nie... wat meer kan 'n mens vra? |

Die kinders het ook sonder die mammas vergader, en daar het 3 items uitgekom; die eerste was 'n ysbreker: 'n "mock" vertoning van Abba se "Mamma Mia" liedjie (nou wel nie van die sixties nie, maar vir kids wat in 1998 gebore is, is enigiets van meer as 15 jaar gelede oud, en daarom pas dit in die sixties tema, ongeag!). Tweedens 'n Noot-vir-Noot spel met bekende ou liedjies soos Oom Jan sny koring, en Jan Pierewiet. Derdens (en dit was vi rmy persoonlik die hoogtepunt) 'n tydlyn met hoogtepunte van hul 7 jaar op GLB. Die eerste skooldag, die eerste (en vir sommige sommer ook die laaste) blokfluit les, twee skoolkonserte, 'n juffrou se troue, die eerste toetsreeks, die eerste veldskool en die wen van die sangbeker met die atletiekdag van vroeër die jaar. Die kinders het dit kortliks uitgebeeld en aan die einde was dit vir almal duidelik dat hulle die 7 jaar op GLB baie geniet het, maar ook baie dankbaar is vir die geleenthede en gebeure die afgelope jare.
 |
Abba se agtergrond-dansers het hul uitstekend van hul taak gekwyt (m.a.w. ek doen dit hulle nie na nie!) |
 |
Eerste, laaste? blokfluitles in graad 1 |
 |
Skoolkonsert van 2005 - Hollandse poppies van "Jack in the box" |
 |
Juffrou Hester trou |
 |
Graad sewes met die personeel van GLB, wie is wie??? |
 |
Na afloop van die aand, moes ons wel die saal weer opruim. En al is hulle al 13-op-pad-na-14, speel hulle steeds graag met ballonne... v.l.n.r. Maricia, Monika, Carla, Leandré |

Weereens mag ons met die skryf van hierdie blog, stilstaan by die onbeskryflike groot genade van ons Hemelse Vader. Wie anders sal ons so seën in alles wat ons doen en ons paaie so gelyk maak soos net 'n almagtige God en Vader kan doen? En dit is wat ons ons eie dogter en haar 9 klasmaats van 2011 toewens - rus veilig in die seker wete dat Hy jou ook in die nuwe jaar in jou nuwe omstandighede sal bewaar en seën, jy het niks om oor bang of bekommerd te wees nie. En ons ook nie...
Sewevanderlindens groet met 'n knop in die keel (altyd daar as daar afskeid geneem moet word...)
Comments