Skip to main content

Pannekoek

Saterdag was dit pannekoekdag. Pannekoek met kaas en maalvleis, aarbeikonfyt en roomys, stroop, en die ou wenner, suiker en kaneel. En die wat meer gewaag het, het die maalvleis, kaas en stroop op een pannekoek geëet.

Pannekoekdag. Dan dink ons aan reën wat teen die vensters klater, wind wat om die hoeke van die huis huil en aan die dakpanne ruk, en die skemerdonker van die donkergrys wolke wat dit noodsaaklike maak om agtermiddag al die ligte by die eetkamertafel aan te skakel.

Saterdag was dit nie sulke weer nie. Soggens het Herno, Maricia en Wicus nog deelgeneem aan die jaarlikse swemgala tussen die GLB en Hebron Christenskool. Swemstyle het gewissel van versluipslag tot borsslag, vlinderslag en enige slag. Maar wat uiteindelik tel is deelname, sportmanskap, geraas en baie pret.

Terug by die huis het die gebruiklike Saterdag doenlys gereed gelê om korter te word. Die voortuin was darem die vorige middag al gedoen, maar Saterdagwerk is nie beperk tot net tuindienste nie. Op die doenlys verskyn items wat wissel van skrynwerk tot messel- en bouwerk, plaveisel, swembad, binnehuisversiering, loodgietery, elektries en talle ander klein en groot projekte wat die nutsman groen van jaloesie sou maak. Gelukkig is ‘n Saterdag net so lank ...

Maar, nadat die gereedskap weer op sy plek gebêre is, ja, op sy plek, anders moet ek eers weer ‘n halwe dag voor die volgende doen-dit-self opdrag alles deursoek om ‘n skroewedraaier te vind, was dit tyd vir pannekoek. Elsbeth was lus om pannekoek te bak en dit het nie veel oorredingsvermoë geverg om die oudstes in die kosmaakspan in te trek nie. So in ‘n japtrap, nog voor ek behoorlik op hoogte kon wees van die jongste verwikkelinge op die krieketveld tussen Suid-Afrika en Australië, was die tafel gedek vir die kulinêre fees van pannekoek en, wel, alles wat daarop saam geëet kon word.

Herno was teen die spoed van bloutrein al by pannekoek nommer sewe. Maricia met ‘n dapper poging ‘n kortkoppie agter hom. Wicus, salig onbewus van die koorsagtige verorbering van pannekoeke langs en oorkant hom, rustig besig om die een gastronomiese samestelling na die ander te skep en met genot happie vir happie oor sy smaakkliere te laat gly. En natuurlik neem dit nie lank vir Xander om die nar aan tafel te wees nie. Sy laaste pannekoek word ‘n sakdoek om sy neus in te blaas, soos ‘n leeu dit met sy tande uitmekaar te skeur en dit wat oorbly op sy kop te sit as beskerming teen sonsteek. En Jorienke? Wel sy steel by almal happies, hoef niks daarvoor te doen nie, en kyk na hierdie poppekasvertoning wat geen speelgroepie kan naboots nie, maar sonder inspanning haar lagspiere laat oefen.

Vir eers is dit nie weer pannekoek nie, maar dalk ‘n rustiger potjiekos of so ...

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...