Skip to main content

Soutpanne en donderstorms

Dit was tyd om die soutpanne te besoek in die Noord-Kaap. Die eerste dag het ek die southope gaan meet op Loch Maree soutpan, sowat 180km noord-wes van Upington, op die pad wat ‘n mens sou ry na die Kgalagadi oorgrenspark. En dit was agtermiddag toe ek op pad was na Brandvlei dat ek dié storm mee maak net voor Kenhardt.

Kyk, vir die grootste deel van die jaar is die Noord-Kaap droog. Loch Maree is geleë in ‘n semi-woestyngebied met ‘n reënval van 100mm to 180mm per jaar. Plase in dié streek word deur die Kalahari-Wes pyplyn bedien wat 83 plase (695 432ha) vanuit die Oranjerivier van water voorsien.

Wanneer die wolke begin saamtrek op die horison in ‘n opstapeling van blomkole, en jy ry deur ‘n streek waar boere nederig afhanklik is van reën van die Voorsiener, dan kan jy weer saamgesels sonder om ingeslurp te word deur die klaagliedere wat ons daaglikse gesprekke toonset.

Want sien, my pa het altyd gesê die eerste verantwoordelikheid van ‘n heer is om nooit te dink hy’s kaas (en dan is hy nog nie eers dikmelk nie). “Wanneer is jy kaas?” het ek gevra. “Iemand wat dink hy’s kaas,” het hy gesê, “is ‘n man wat, wanneer jy hom vra hoe dit met hom gaan, dink hy is alte waffers.”

En dit het ek ter harte geneem. Ten spyte van al die bewyse dat ons kuiers geïnfiltreer word deur mekaar se duisende murmureringe oor misdaad of eiendomspryse wat daal of oor die Dalai Lama wat ‘n visum geweier moet word en nou kan die vredesberaad nie voortgaan nie, het die waarheid my nog nie tussen die oë geslaan nie: sosiale kringe omhels klaers. Om te kla is die smeermiddel van Suid-Afrikaanse kuiergesprekke.

Ons leef in ‘n kultuur waar jy jou onvrede met jou stem betuig, en as jy nie wil saamdoen nie, is jy vir ewig die buitestaander. Of erger, jy word met argwaan bejeën. Gmpf, geen klagtes uit daai hoek nie. Hy dink seker hy is beter as ons.

Daarom is ek so bly oor die reën in die Noord-Kaap. Nou kan die boere weer asemhaal, want die groenigheid wat soos nuutskeppinge weer opspruit, sal die swartkop dorperskape weer maande van voer voorsien. Nou kan die viertrekbendes weer hier kom wegbreek, want die wêreld is mooi. Nou kan ons weer opgewonde raak oor die rooskleurige toekoms, oor die natuurwonders van ons land, oor die klein dingetjies wat soms te vanselfsprekend oor die oog gesien word.

En al is te veel reën nie té welkom tydens die soutoes nie, moet die ondergrondse soutwater tog ook een of ander tyd weer aangevul word ...

Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...