Skip to main content

Gereformeerde Laerskool hou Bellville skoner

Herno en Maricia het saam met die graad 4 tot 7 leerlinge van die Gereformeerde Laerskool gehelp om vullis op 'n oop stuk veld langs die skool op te ruim. Oor dié gebeurtenis het 'n artikel in die Tygerburger op 11 Maart 2009 verskyn.

Die Gereformeerde Laerskool het met glimlagte op hul gesigte ander morsjorse se vullis op ’n oop stuk veld langs die skool opgeruim – want hulle gee om vir Bellville en wil ander aanspoor om hul voorbeeld te volg. Die skoolhoof, mnr. Erik van der Linden, sê die vervuiling van Bellville is opmerklik en die skool het besluit dit is nie net die Stad Kaapstad se plig nie, maar elke inwoner om na die omgewing se netheid om te sien.

Die skool se gr. 4- tot gr. 7-leerders, altesaam 42 van hulle, is opgedeel in twee groepe wat elk vir twee ure lank die veld langs die skool, op die hoek van Frans Conradierylaan en Saasveldweg, skoongemaak het. Van der Linden glo om ’n voorbeeld vir sy skool se leerders te stel en het gehelp met die opruimsessie.

Van der Linden sê die veld was besaai met allerhande rommel waaronder vrot vis, huisrommel en selfs dooie honde en katte wat dieper weg in die veld lê. Hy sê die opruim van die vullis kon sekere gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir die leerders inhou, daarom het hulle slegs die vullis soos bottels, sakke, papiere en kartonne opgeruim wat nie verder as 10 meter vanaf die pad is nie. Die leerders het uiteindelik 70 swart vullissakke, vier swart dromme en drie kruiwaens vol rommel opgeruim.

Van der Linden sê die leerders leer by die skool in wetenskap en aardrykskunde oor besoedeling en volhoubare ontwikkeling. Hy sê die besoedelde veld het die probleem goed geïllustreer. “In albei vakke spreek ons ons verantwoordelikheid as Christene aan in teorie. Vrae word byvoorbeeld gevra oor wat ons verantwoordelikheid is en wat ons as Christene moet doen. Soms het ons hele klas ’n gesprek hieroor. Van die praktyk kom daar egter nooit iets nie. By ons huise en ons skool wil ons die leerders tog leer om nie net ‘praat-Christene’ te wees nie. Dit is dan ook die rede waarom ons op ’n jaarlikse basis hieraan wil aandag gee,” sê hy.

Van der Linden sê verskeie inwoners het reeds hul dank uitgespreek teenoor die skool vir die opruimsessie, en ’n ouer was só beïndruk dat hy reeds vir ’n onderhoud was om sy kind by die skool in te skryf. “Ons wil ander skole, en ook die gemeenskap, vra om dieselfde te doen en ons omgewing op te pas. “Ons moet eienaarskap aanvaar. Daar is geen rede hoekom daar gemors moet rondlê nie,” sê Van der Linden.

Die skool bedank Continental Cobbles wat hul trokkie beskikbaar gestel het om die vullis weg te ry.

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...