Skip to main content

Posts

Showing posts from 2009

Teëspoed langs die pad

Ons het al teëspoed langs die pad gehad. Soos toe die karavaan se wiel flenters gery is tussen Robertson en Swellendam. Ons moes toe die skokbreker met houtstompe en draad regmaak om net tot Swellendam te kom, teen dertig kilometer per uur en nog dertig kilometer tot by Supa Quick. Maar Dinsdagoggend val ons in die pad vol vertroue dat ons sonder oponthoud in Oudtshoorn sou aankom. Die vorige dag is die karavaan gepak. Net die fietse moes op die Holdfast drarek vasgemaak word en toe is die sewevanderlindens reg vir die lang pad. Hierdie keer het die karavaan se dak nie afgewaai nie. Na ons deur die tolhekke by die Hugenote tonnel is, word die Kombi vir die eerste keer getoets met die volgelaaide karavaan en ses fietse agteraan. Maar al gou verruil ons die mistigheid van die Skiereiland vir die volle glorie van sonskyn anderkant die Hottentotshollandberge. Worcester, hier kom ons. In Montagu toets ons die geduld van die plaaslike inwoners om parkeerplek voor die OK Bazaar te kry. Elsbet...

The Final Countdown

  Afgelope Donderdagaand, 10 Desember 2009, het Herno en sy klasmaats afskeid geneem van die Gereformeerde Laerskool Bellville. Die aand was ingekleur in die tema van 'n strandpartytjie; dus almal was informeel geklee en in 'n uiters ontspanne en vrolike bui. Die Graad sewes het die gaste uitstekend vermaak met speletjies, gekskeerdery en blatante gekookte wêreldkennis vasvra. Voorwaar 'n lekker manier om totsiens te sê na sewe jaar laerskool.

Die onmeetbare prys van kinders

Die afgelope week het Elsbeth en ek weer besef hoe onmeetbaar ryk ons is met ons kinders wat "soos olyfboomplantjies rondom ons tafel" sit (Ps128: 3). Ek weet nie hoeveel keer mense ons al gevra het hoe ons dit regkry om vyf kinders te bekostig, en as hulle hoor dat Elsbeth 'n voltydse ma en tuisteskepper is, val hulle sowat op hulle rug. Ek is eerlik as ek sê dat ek self soms wonder hoe ons toekomstige studies aan universiteite gaan finansier, maar so het ons ook gewonder hoe ons ons kinders alles kan gee wat hulle nodig het toe hulle nog baie kleiner was. As ek nou terugkyk, sien ons die Here se versorging, liefde en voorsienigheid in alles wat ons tot dusver uit sy hand ontvang het. Dit maak ons klein, maar dankbaar, want Jesus onderwys ons as Hy sê: "Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel." Ons kinders is broos, en kan môre deur Hom weggeneem word. Tog mag ons deur die tydelike verdriet, hartseer en sorge wat nou op ons...

Soutpanne en donderstorms

Dit was tyd om die soutpanne te besoek in die Noord-Kaap. Die eerste dag het ek die southope gaan meet op Loch Maree soutpan, sowat 180km noord-wes van Upington, op die pad wat ‘n mens sou ry na die Kgalagadi oorgrenspark. En dit was agtermiddag toe ek op pad was na Brandvlei dat ek dié storm mee maak net voor Kenhardt. Kyk, vir die grootste deel van die jaar is die Noord-Kaap droog. Loch Maree is geleë in ‘n semi-woestyngebied met ‘n reënval van 100mm to 180mm per jaar. Plase in dié streek word deur die Kalahari-Wes pyplyn bedien wat 83 plase (695 432ha) vanuit die Oranjerivier van water voorsien. Wanneer die wolke begin saamtrek op die horison in ‘n opstapeling van blomkole, en jy ry deur ‘n streek waar boere nederig afhanklik is van reën van die Voorsiener, dan kan jy weer saamgesels sonder om ingeslurp te word deur die klaagliedere wat ons daaglikse gesprekke toonset. Want sien, my pa het altyd gesê die eerste verantwoordelikheid van ‘n heer is om nooit te dink hy’s kaas (en dan i...

Pannekoek

Saterdag was dit pannekoekdag. Pannekoek met kaas en maalvleis, aarbeikonfyt en roomys, stroop, en die ou wenner, suiker en kaneel. En die wat meer gewaag het, het die maalvleis, kaas en stroop op een pannekoek geëet. Pannekoekdag. Dan dink ons aan reën wat teen die vensters klater, wind wat om die hoeke van die huis huil en aan die dakpanne ruk, en die skemerdonker van die donkergrys wolke wat dit noodsaaklike maak om agtermiddag al die ligte by die eetkamertafel aan te skakel. Saterdag was dit nie sulke weer nie. Soggens het Herno, Maricia en Wicus nog deelgeneem aan die jaarlikse swemgala tussen die GLB en Hebron Christenskool. Swemstyle het gewissel van versluipslag tot borsslag, vlinderslag en enige slag. Maar wat uiteindelik tel is deelname, sportmanskap, geraas en baie pret. Terug by die huis het die gebruiklike Saterdag doenlys gereed gelê om korter te word. Die voortuin was darem die vorige middag al gedoen, maar Saterdagwerk is nie beperk tot net tuindienste nie. Op die doenl...

Gereformeerde Laerskool hou Bellville skoner

Herno en Maricia het saam met die graad 4 tot 7 leerlinge van die Gereformeerde Laerskool gehelp om vullis op 'n oop stuk veld langs die skool op te ruim. Oor dié gebeurtenis het 'n artikel in die Tygerburger op 11 Maart 2009 verskyn. Die Gereformeerde Laerskool het met glimlagte op hul gesigte ander morsjorse se vullis op ’n oop stuk veld langs die skool opgeruim – want hulle gee om vir Bellville en wil ander aanspoor om hul voorbeeld te volg. Die skoolhoof, mnr. Erik van der Linden, sê die vervuiling van Bellville is opmerklik en die skool het besluit dit is nie net die Stad Kaapstad se plig nie, maar elke inwoner om na die omgewing se netheid om te sien. Die skool se gr. 4- tot gr. 7-leerders, altesaam 42 van hulle, is opgedeel in twee groepe wat elk vir twee ure lank die veld langs die skool, op die hoek van Frans Conradierylaan en Saasveldweg, skoongemaak het. Van der Linden glo om ’n voorbeeld vir sy skool se leerders te stel en het gehelp met die opruimsessie. Van der ...

Vyf van die sewe

Die vyf Van der Lindens, Boulders Originally uploaded by Sewevanderlindens As ons 'n blog wil byhou wat hoofsaaklik gaan handel oor die wel en wee van die sewe Van der Lindens in die Kaap, is dit gepas dat ons begin by 'n foto ons vyf kinders bymekaar. Hierdie foto is verlede jaar September geneem by Bouldersstrand in Simonstad. Die wêreldbekende pikkewynkolonie van die Kaap is hier gevestig. As 'n mens nog net pikkewyne in 'n dieretuin gesien het, is dit verfrissend om hulle in lewende lywe op die strand en rotse dop te hou. Dit was die moeite werd om hierdie juweel in die Skiereiland te besoek as deel van ons daguitstapie al langs die kusstrook van Muizenberg tot die Waterfront in Kaapstad.