Skip to main content

Jaarafsluiting

Einde van 2012 is in sig...

Alweer 'n jaar verby; die tyd vlieg.  In die tyd nadat Herman sy werk verloor het en hy begin het om Axact Accounting op te bou, was die gebrek aan kollegas en die kontak met medewerkers vir hom 'n groot gemis.  In November 2011 het hy deur verwysing by 'n besigheid in Durbanville uitgekom.  Hierdie besigheid was in groot moeilikheid as gevolg van die bedrog en oneerlikheid van hul belasting-konsultant.  Herman kon daarin slaag om die moeilikheid op te klaar, die boetes en rente wat SARS gehef het, gekanselleer te kry en die besigheid op gesonde voet met die belastingdienste te kry.  Hieruit het 'n kontrak en samewerking gegroei.  Iets waarvoor ons baie dankbaar is; dit bring 'n vaste inkomste elke maand.

Dit het ook op kollegiale vlak gegroei en so is ons as paartjie na die besigheid se jaar-eind-funksie genooi.  En nie net sommer 'n funksie nie, 'n naweek!  Die besigheid het die afgelope jaar baie gegroei en het alle verwagtinge (en die begroting) oortref.  Om die personeel te bedank vir hul harde werk, is 'n interessante daguitstappie gereël vir die hele personeel en hul metgeselle.  Die uiteinde by 'n hotel waar almal kon oorslaap voor hulle die volgende oggend huis toe gaan.

En so gebeur dit dan:  Saterdag 15 Desember het ons by die kantoor in Durbanville bymekaar gekom.  Hiervandaan die Vissershokpad geneem in die rigting van die Weskus.  Ons eerste stop:  Grote Post Wyne.  Hier is 'n kort programmetjie van wynproe aangebied en het ons ons toeleier ontmoet.

Vanaf Grote Post is ons verder aan na Die Strandloper - 'n buitelug restaurant waar Vrydag tot Sondag 'n 10-gang seekos-buffet aangebied word.  Van kreef tot engeltjie-vis en snoek.  Gebakte patat en tuisgebakte brood.  Growwe konfyt en koeksisters met moerkoffie as gang 9 en 10.  Die restaurant is letterlik op die strand, die seemeeue baklei vir die koppe van die visse wat vir die gaste skoongemaak word.  En die plaaslike weergawe van Johan Stemmet is aan diens:  Donny met sy kitaar.  Ons is vermaak met Loslappie tot Ou ryperd, die Blou Bul lied en ook sommer Elvis, Louis Armstrong en vele ander.  Dit was 'n ongelooflike ervaring, die kos was lekker en die geselskap wonderlik.

Vanaf die restaurant, het ons deurgery na Shelly Point hotel.  Hier het ons kans gehad om bietjie in die swembad af te koel of 'n uiltjie te knip.  Half 6 het ons aangemeld vir die rolbal wedstryd.  Vier spanne van 7 elk, het die stryd aangesê.  Die span waarin Herman en ek was, het ons kompetisie gewen en deurgedring na die "eindrondte".  Hierdie een moes in allerhaas afgehandel word en elke speler het net een bal gehad - ons het eenvoudig een rondte gespeel en gekyk watter span die naaste aan die wit balletjie kon kom.  Hier het ons die stryd verloor met letterlik 'n sentimeter verskil...

Aandete was in die vorm van lekker slaai en steak en 'n gesellige kuier en samesyn.  Sondagoggend was elkeen vry om te doen wat hulle wil.  'n Gesamentlike ligte middagete het die geleentheid afgesluit en ons was weer om half vier tuis.

Dankie aan Merrick, Byron, Roelof vir die geleentheid om die mense wat elke week 'n dag of selfs twee saam met my man werk, te leer ken.  Dankie aan Simone wat kans gesien het om ons 5 kinders op te pas en besig te hou.  Maar bowenal dankie aan ons Hemelse Vader vir bewaring op die paaie weg van huis en ook tuis.

Geniet die prentjies...

Grote Post Wyne,
die wingerde is 7km ver van die wynmakery af

Ingang na Die Strandloper,
by die "voordeur" staan
"Djy is welkom".

Kreef!

Donny, die plaaslike vermaak

Slaapkamer van B58 by die
Shelly Point Hotel en Spa


Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...