Skip to main content

Gr. R-konsert

Red die bos!

Dit was die naam van die gr. R'e van 2012 se konsert.  Die storielyn vertel hoe die houtkapper die bome afsaag sonder om te dink aan die eekhorinkies of die voëltjies wat in daardie bome woon.  En hy dink ook nie aan die eendjies wat nie in die dam kan swem as daar nie koeltebome is om hulle koel te hou teen die brandende son nie.  Die prinses en die feetjie is baie bekommerd oor hierdie toedrag van sake en roep 'n bos-vergadering byeen.  Die houtkapper is te bang om te kom...

Dan kry die diere 'n plan en die twee kwaai bere word gestuur om die houtkapper te vang.

Die bere vang die houtkapper en vertel vir hom mooi waar Dawid die wortels begrawe het... Die houtkapper stem toe om nie bome af te saag waarin daar diertjies of voëltjies woon nie.  En so kan die diere saam met die houtkapper fees vier want die vrede het teruggekeer na die bos!

In die rol van een van die kwaai bere:  Xander van der Linden.  Hy het sy rol met oorgawe gespeel, sy vriend Matthys, die houtkapper, met durf en daad gevang en uit volle bors gebrul...

Dit was 'n oulike musiekblyspel en dit het die gr. R-jaar op hoë noot afgesluit.  Ongelooflik, Xander gaan graad 1 toe!  Dit beteken Jorienke gaan graad R toe... Dus vanaf volgende jaar het ons net twee skole op die rooster: GLB (Gereformeerde Laerskool Bellville) en BHS (Bellville Hoërskool).  En dit is die geval vir 2013 en 2014.  Daarna raak ons betrokke by tersiêre onderrig!!  Tyd vlieg!

Geniet die foto's, die laaste een is van Xander by die gradplegtigheid - ja, hy het sy eerste graad agter sy naam!

Matthys die houtkapper en Xander die beer,
voor die houtkapper se huisie

Die diere hou vergadering saam met die prinses en die feetjie

Xander, die kwaai? beer

Die diere is almal baie bly om 'n goeie oplossing vir hul
probleem te kry

Gradeplegtigheid:  Matthys, Xander, Christiaan en Marike

Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...