Skip to main content

Jorienke - 'n handvol!

Natuurlik letterlik en nie figuurlik nie...

Ons is baie dankbaar dat ons weer Jorienke se verjaarsdag mog vier.  Sy het gister vyf geword - 'n hele hand vol.  En ons het darem dié geleentheid gevier met geskenkies, koek en kuier!  DV komende Saterdag hou sy 'n partytjie vir haar speelgroepie-maats.

En as 'n mens vyf is, word jy volgende jaar ses!  En as jy volgende jaar ses word, gaan jy graad R toe!  En vandag was dit dan sommer die tweede langverwagte datum:  graad R-inskrywings!  Jorienke het 'n prent van 'n boompie met twaalf vrugte in, gekry om in te kleur .  Elke vrug verteenwoordig 'n week.  Aan die begin van elke week, moet sy 'n plakker in 'n vruggie plak.  As al die vrugte 'n plakker het, is dit nog 3 dae, dan gaan sy graad R toe!

Xander het vandag sy graad 1-inskrywingsdag gehad.  En hy het 'n kaart gekry met 12 strokies aan, elke Sondag moet hy die week se strokie aftrek.  As alle strokies afgetrek is, is daar nog net 3 dae, dan begin hy in graad 1.  En so het ons dus twee baie opgewonde kleuters in die bed gesit vanaand. 

En asof volgende jaar nie al genoeg aanpassing is nie - graad 1 vir die eerste keer weer in 6 jaar en 'n tweede keer graad R in twee jaar... dan mag ons ook nog 'n graad 7 seun hê, vir wie se klas daar heeljaar lank geld ingesamel word, sodat hulle aan die einde van die jaar 'n afskeidspartytjie kan hou!  Ek dink ek raak amper al moeg as ek net daaraan dink...!?!

Ek groet, geniet die foto's van ons jongste... Ons handvol...!

O ja!! Ek is wakker, ek verjaar... bring it on!

Rokkie wat ouma Marja as geskenk agtergelaat het
voor sy Australië toe is

Barbie se perd! (In die boksie wat sy vashou, nie die een
wat langs haar lê en vir haar loer nie!)

Xander is altyd reg vir aksie, of dit nou half sewe die
oggend van sy sussie se verjaarsdag is of nie!

Wicus help Jorienke met die uitpak van haar boogie-board.

Wat sê hulle? Vere maak die voël?
Hierdie meisiekind is klaar pragtig, of sy nou
'n mooi nuwe rokkie aanhet of nie!

Soooo vreeeeslik moeg ge-verjaar!  Ons slaap sommer
met ons rokkie en kapsel aan!

Prinsessies, Hallo Kitty en Barbie was die eetbare
plakkers op Jorienke se kolwyntjies wat saam is
speelgroepie toe vanoggend.

 

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...