Hoe vier 'n mens vier?
Ag wat, dis baie maklik - 'n mens word Sondagoggend wakker. Mamma help jou om mooi kerkklere aan te trek. Jy storm by mamma en pappa se slaapkamer in en roep kliphard in pappa se oor: Pappa ek verjaar, jy moet opstaan!" Dan gaan jy sitkamer toe en wag totdat die hele gesin aanwesig is. En dan.... dan begin jy vier! Almal sing, almal gee drukkies en soentjies en... geskenke! Dit kan jy dan oopmaak, bewonder en omdat jy vier word (is) kan jy vir die volgende geskenkie vra!
Daarna gaan 'n mens kerk toe en omdat jou naam in die "Voorportaal" (weekblad) van die kerk staan, word jy by die kerk ook gedruk en gesoen (minder lekker!?!) en kan jy ook nog 'n geskenkie losslaan (baie lekker!!). Daarna gaan jy huis toe, die familie volg almal gedwee en dan begin die storie weer van voor af. Weer soene en drukkies (sug!) maar darem ook geskenke! En dan? Dan gaan speel 'n mens so
tussen die koek-eet deur. En 'n mens swem met jou nuwe
bikini en trek jou pop se nuwe popklere aan.
Dan ry die familie en jy wil net begin hartseer raak omdat daar nou niemand meer is om mee te speel nie, dan kom daar nog familie kuier. En as hulle klaar koek geëet het en gespeel het, is hulle ook weer weg en jy begin net wonder met wie op aarde kan jy nou speel? En dan kom jou buurdogtertjie ook nog gou drukkies, soentjies en geskenkies aflaai! En dan speel 'n mens vir die derde keer hierdie dag lekker met jou nuwe geskenke.
En as jy jou oë uitvee, ry pappa en die oudstes kerk toe vir die aanddiens, mamma roep jou om te kom bad en dan is 'n mens se verjaarsdag sommer verby!
En dit is hoe 'n mens jou vierde verjaarsdag vier.
Comments
Groete van die Meijerings