Skip to main content

Badkamermoleste

Vir die van julle wat die laaste 2 jaar meer as een keer in ons huis was en die badkamer moes gebruik, sal hierdie twee prentjies bekend lyk... 

Sowat 26 maande gelede (Junie 2009) het ek en die kinders die muurpapier en die stukkende teëls van die mure in die hoofbadkamer, afgek(r)ap.  Dit het ons so ongeveer 2 dae geneem en almal het gehelp (wel, Xander en Jorienke was natuurlik nog onderskeidelik klein en kleiner...) Xander het gehelp totdat hy die hamer met soveel entoesiasme geswaai het, dat die wasbak se hoek afgekap is, die bewyse is steeds sigbaar ondanks die noodoperasie met Super glue voordat pappa tuiskom.
 

Die oudste drie kinders het elkeen 'n deel van die muur beskilder, Herno het die sonnestelsel geteken, Maricia 'n kasteel en Wicus 'n lughawe kompleet met helikopter en vliegtuig.  Xander het te groot geskrik met die hamer en wasbak-episode, hy het beleefd bedank vir die voorreg om nou 'n slag op die mure te mag teken...Na hierdie ywerigheid, het die inspirasie opgedroog (of dalk was dit die beursie wat droog gestaan het).  Projek-hoofbadkamer het stilgestaan.

Gelukkig was dit maar net hierdie projek wat so 'n bietjie vergete geraak het... ons het intussen 3 ander projekte afgehandel:  agterstoep, motorhuisdeur en voordeurpaadjie voltooi.  Nie sleg nie!  Kom kyk gerus as jy dit nog nie gesien het nie, dis werklik mooi... 

Hierdie soort projekte word (in Elmslot in elk geval) meestal slegs voltooi wanneer daar werklike druk op ons geplaas word.  Die agterstoep is klaargemaak ter ere van die besoek van 15 Nederlandse familielede (ja, almal op een slag).  Hier kon Hans en sy manne ons darem betyds help.  En ons het ten volle geniet van hierdie agterstoep toe ons saam ons 40ste verjaarsdae gevier het. 

Die herstel van die motorhuisdeur was te danke aan die feit dat Jerome sou kom en die huis sou oppas terwyl ons in Holland is, dit sou nie reg wees om van Jerome te verwag om in die middernagtelike ure die "geoutomatiseerde" motorhuisdeur met die hand op te lig nie... 

Die voordeurpaadjie het aan die beurt gekom toe ons begin dink het aan 'n eie praktyk vir Herman.  Weereens het Hans en die manne tot ons redding gekom!  Nou pas die agterstoep, voordeurpaadjie en garagepad alles mooi bymekaar.

Met Axact Accounting nou 'n konkrete deel van ons lewens, was dit gou duidelik dat 'n kantoor letterlik in die middel van die huis, nie vir Herman 'n werkbare (pun intended!) opsie is nie.  Die interne verhuising wat ons op stemdag 18 Mei 2011, aangepak het, sal nie voldoende wees nie.  Herman en Axact Accounting het meer nodig as 'n kamer in die gang tussen badkamer, slaapkamers en kombuis. 

En dit het weer lewe geblaas in projek-hoofbadkamer.  Ons is baie bly ons het destyds nie die badkamer klaar gemaak nie,  ons sou daardie tyd nie plek gemaak het vir die wasmasjien in die badkamer nie.  (Ja, sien jy, dis goed ons het gewag...) Die nuwe planne wat ons nou in werking gestel het, is om vir Herman die waskamer as kantoor in te rig.  Die wasmasjien skuif badkamer toe en die tuimeldroër na die motorhuis. Die gevolg? Stof, stof en nogmaals stof...


Die pype van ons stort het onderdeur die bad geloop.  Met die uitkap van die bad (foto links), moes hierdie pype geskuif word (boonste foto regs).  Die toiletbak en spoelbak het gelek en moes vervang word.  Die wasbak het 'n hou weg met 'n hamer ... en sou ook vervang word (onderste foto regs).

Alles bymekaar het dit 'n week geduur voorat ons nou met dankbaarheid en trots kan sê, fase een van hierdie nuwe binnenshuise verhuising, is amper afgehandel.  Ons mag nog nie die badkamer gebruik nie, die silicone wat gebruik is vir seëling, moet eers droog word.  Maar dit lyk al baie mooi.




Posted by Picasa

Comments

Dit lyk pragtig! Ons hoop julle geniet jul "nuwe" badkamer!

Liefde
Breytenbachs van Bethal

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...