Skip to main content

Axact Accounting

Mag ek julle bekend stel aan die eienaar van die nuutgestigde Axact Accounting?  En nee, dis nie 'n spellingfout deur die (on?)bekwame Engelse onderwyseres nie!  Axact Accounting se spelling is met opset gekies om aandag te trek;  deur die gebruik van die bekende Engelse woord word 2 assosiasies opgeroep:  die een met die woord soos dit gespel behoort te word, die ander een om die Afrikaanse betekenis van die woord te betrek.  Axact Accounting is gestig om akkurate en betroubare boekhoukundige en finansiële dienste te lewer.

Axact Accounting is die gevolg van baie gesprekke tussen Herman en my, Herman en ander mense wat ons belange die laaste maande op die hart gedra het, en bowenal, gesprekke as gebede tot ons Hemelse Vader.  Ons het na die eerste skok van die "retrenchment"-brief in April, ons opsies neergeskryf.  Die van julle wat op gereelde basis met ons kontak gehad het, sal teen hierdie tyd ook al die verskillende opsies uit jul koppe ken! Ons soek werk vir Herman: in die Kaapse Skiereiland-omgewing (dit sal die eerste prys wen), ons soek ook verder in die res van Suid-Afrika (nie noodwendig ons keuse nie, maar die Engelsman sê nie verniet "Beggars can't be choosers" nie).  Of ons soek werk in die buiteland, met name Nederland.  Vierde opsie is om 'n eie besigheid te begin.

Herman het meer as 200 CV's uitgestuur oor die hele land en ook in Nederland.  Sy naam en CV is by 4 nasionale en 3 internasionale personeelagentskappe geregistreer.  Hy het persoonlike kontak met 2 plaaslike en 2 internasionale personeelagente gehad.  Uit al hierdie aktiwiteite het daar 2 onderhoude voortgekom.  en geen van beide het uitgeloop in die fel-begeerde permanente posisie nie.

Met Julie wat vir ons gevoel baie vinniger gegaan het as wat beskaafd was, het ons besef dat ons daadwerklik na opsie vier sal moet kyk.  Ons het gesels, gepraat, gedink, geredeneer, beplan, gesels en weereens gesels.  Saam het ons gebid, elkeen op ons eie het ons gebid, as gesin het ons gebid...  En ons het tot die konklusie gekom dat 'n eie besigheid met al die onsekerhede daaraan verbonde, die enigste pad is wat ons nou (vir eers?) kan loop.  'n Mens kan immers nie tuis sit en niks doen en wag dat iemand vir jou 'n werk aanbied nie?!?  'n Mens kan wel by deure aanklop en telefoonoproepe maak en jou dienste vir iemand aanbied!

Axact Accounting het tot dusver een kliënt, daar is 3 kwotasies aan 3 moontlike ander kliënte uitgestuur, daar is 2 afsprake wat hierdie week nog nagekom moet word en daar is 2 kontakte waarvoor die fondamente gelê is, daar moet nou net gebou word...

Intussen het daar vandag na 'n verdere gesprek met een van die personeelagentskappe, ook die moontlikheid na vore gekom om as konsultant betrokke te raak by die aanbied van klasse vir professionele mense wat deur hul werk en bevordering meer van rekeningkunde en finansies moet leer.  Ook hierdie opsie is slegs in die kinderskoene en ons sal geduld moet hê en rustig moet wag tot hierdie projek volwaardig aan die gang is.  Maar in dit alles, sien ons nou reeds dat die Here ons seën - nie met 10 kliënte binne 3 dae nie, maar met kontakte, moontlikhede en geleenthede. 

Axact Accounting kan nou nog nie in ons as gesin se behoeftes voorsien nie, maar die Here het voorsien deur die skikking waartoe Herman met sy vorige werkgewer kon kom.  Axact Accounting het miskien nou  nog net een vaste kliënt, maar beskik oor 'n eienaar-bestuurder wie bereid is om sy volle energie, ervaring, kennis, kundigheid, waardes en norme agter sy maatskappy te sit en lang ure te werk om hierdie maatskappy 'n sukses te maak, en dis ook al 'n ryke seën, nie waar nie?  Axact Accounting het miskien nog geen indrukwekkende kantoor of sigbare banier nie, maar dit het reeds die suksesvolle indiening van 2 belastingopgawes waarin die belastingbetaler geld moes terugkry van SARS, en dit het inderdaad ook so gebeur - binne 'n week na die indien  van die opgawes, is die geld in die bankrekeninge betaal.  Indrukwekkend?  Sekerlik!  Maar bowenal 'n seën!  Laastens, Axact Accounting het nog nie 'n lang lys van belangrike name van werknemers of kliënte nie, maar dit het 'n lang lys van ondersteuners en belangstellendes wat die sukses van hierdie besigheid op hul harte dra; hierdie lys begin by vyf jong (en minder jong) kinders wat baie beïndruk is met hul pa wat nie meer 'n baas het nie, maar die baas is.  Hierdie 5 mensies in ons lewens was reeds al vir 'n kumulatiewe tyd van 46 jaar vir ons 'n ryke seën en die manier waarop hulle - elkeen op sy eie leeftydsvlak - vir pappa ondersteun en bereid is om opofferings te maak, is 'n seën wat ons sonder woorde laat.

Ek deel tot slot met julle hierdie oulike staaltjie:  Jorienke kuier van nou af Woensdae by (ouma, tannie) Ina terwyl ek by die skool werk.  In die tyd wat Herman en ek in Holland was vir Alex se troue, het die 2 kleintjies by Van Alten gebly en het oom Jan en tannie Ina, oupa Jan en ouma Ina geword.  Dis 'n storie op sy eie...  In elk geval, ons oom Jan van Alten is 'n versekeringsagent wat sy kantoor tuis het.  Jorienke drink vanoggend saam met oupa Jan en ouma Ina koffie (milo) en sy sê uit die bloute:  "My pappa doen dieselfde werk as oupa Jan!"  Pragtig, die assosiasie - tuis werk is 'n soort werk.  Met sulke heldeverering van ons 3-jarige, kan dit mos net goed gaan met pappa se werk?!

Sewevanderlindens groet.

Comments

Dis wel 'n bietjie laat maar baie geluk met jule besluit en Herman ons wens dat hierdie besigheid van jou 'n groot sukses sal wees. Ons glo so omdat ons ook weet dat julle hierdie saak in gebed uitgeworstel het. Mag julle elke dag Ps 23:1 ervaar "Die Here is my herder - ek kom niks kort nie(nuwe vertaling)"
Liefde
Hannes en Marietjie

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...