Skip to main content

Urban Park, Groenpunt

Lank lewe die papierkompetisie!

Elke kwartaal hou GLB papierkompetisie - ons samel ou papier in wat vir herwinning gebruik kan word.  Elke kwartaal is die kompetisie anders saamgestel en is die prys waarvoor gewerk en gekompeteer word, verskillend.  Vir die derde kwartaal van 2012 was die kompetisie in klasverband.  Dus het graad 6 en 7 kragte saamgespan en as oorwinnaars uit die stryd getree!  Die prys?  'n Piekniek by Urban Park in Groenpunt.

Op Woensdag 26 September het ons dan so gemaak, 4 karre volgelaai met jongmense en piekniekpakkies, het die N1 rigting Kaapstad aangedurf.  Ons sou eers Donderdag die 27ste gaan, maar danksy akkurate weervoorspelling van yr.no het ons dit 'n dag vervroeg - en ook maar goed ook.  Dit was steeds nie juis stralende weer nie, maar droog en windstil, wat meer kan 'n mens vra as jy in die Kaap woon en dis nog maar September?

Die kinders het hulself met hul rugby-, sokker- en netballe vermaak en ook ondersoek gaan instel na die plantegroei in die park en die baie interessante klim- en speelapparaat aan die ander kant van die park.  Intussen het die mammas en juffrou lekker gesit en gesels met koffie en 'n stukkie melktert om die piekniek-idee af te rond.

Die piekniekpakkies was gevul met lekkernye en die koeldrank het welkome lafenis gebring.  Baie dankie aan juffrou Anita van GLB wat die piekniek gereël het en tannies Annelies, Annette en Karin wat saamgery het om "juffrou" Elsbeth met vervoer te help en geselskap te hou. 

Welgedaan graad 6 en 7 met die 1.8 ton ou papier wat ingesamel is.  Dis heelwat bome wat hopelik nie afgekap hoef te word nie...




Graad 6 en 7 2012
Urban Park Groenpunt
Woensdag 26 September

Agterste ry vlnr: Juan G., Tiaan O., Brigine B., Elizna M., Anika J., Annelies G., Riana dM., Marianne vR., Carla L., Johanka B.,

Middelste ry vlnr: Wicus vdL., Marius R., Azola K-H., Arno vdV., Marco vR., Tiaan dW.,

Voorste ry vlnr: Tineke M., Corine M., Anine M. en Hanli A.


Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...