Skip to main content

Proteaplaas-naweek

In 'n vorige blog het ek stories met prentjies belowe. Hier is die tweede een in my poging om hierdie belofte gestand te doen.  Die afgelope naweek (rondom 9 Augustus) was 'n langnaweek vir die skole in S.A.  Ons het die geleentheid met beide hande aangegryp en saam met twee ander gesinne (in totaal 6 volwassenes en 13 kinders) ons kennismaking met Proteaplaas in die Koo-vallei gaan hernu. Kyk gerus na die vorige blog oor hierdie werkende vrugteplaas met die wêreldberoemde trekkerrit-en-potjiekos-uitstappie (ons was in November 2011 op die plaas met die graad 7-klas).

Ons het tyd gehad om Donderdag by die dam met die roeibootjie en duikplank te gaan piekniek hou.  Die weer was pragtig - koud, maar sonnig.  'n Aantal kids het die roeibootjie (met gepaardgaande nat broek en skouers) aangedurf (miskien bietjie geïnspireer deur die roeiers van SA wat goud en brons op die Spele gewen het???).  Ander kids het die vryheid van in bosse en natuur rondhardloop ten volle benut en met boomgom aan die klere en splinters in die kaal voete teruggekom.  Ander weer het so 'n half-hartige poging aangewend tot touch-rugby.  Die res van ons het die son geniet. 

Vrydag was 'n lieflike, sonnige dag.  Ons het optimaal geniet van in die son sit (die dames met hul hekelwerkie en die manne slapend agter hul leesboeke).  Die kinders het gestap en selfs tyd gekry om 'n spoorsny-wedstryd van stapel te stuur.  Die hoenderpotjie wat ons self gemaak het, was verruklik.  Die kaggelvuurtjie saans was net die regte kameraad vir Poloconomy of 'n lekker boek.

In ons agterkoppe het ons geweet die weer gaan verander.  Oornag het dit dan ook gebeur.  Die berge waar ons die vorige dae nog lekker gestap het, was Saterdagoggend skielik wit van die sneeu.  Dit het soggens van twee-uur tot nege-uur sonder ophou gereën.  Toe dit vir 'n rukkie droog was, het die manne met 'n handjievol dapper kids, gaan stap om te kyk of ons by die sneeubedekte berge sal kan kom.  Terwyl hulle weg is, het ons 'n bui ysreën gehad.  Met die terugkomslag, was ons bang die stappers sal sopnat en yskoud wees.  Die ysreën het hulle egter nie natgemaak nie - die yskorreltjies het van hulle afgerol voordat dit gesmelt het!

En toe...?!? Toe kom die sneeu... vir die res laat ek julle met die foto's.  'n Wonderlike naweek weg, het in 'n fantastiese naweek weg verander - met die beste herinneringe waarvoor 'n mens sou kon vra...

Die berge agter die huisie was die oggend toe ons opstaan
wit van die sneeu, wat 'n bekoorlike gesig!

Die mammas en die 13 kinders... die pappas was te bang,
blasé, versigtig, oud of wat ookal om saam met ons
in die sneeu te poseer.  Maar aan die ander kant,
wie sou die foto neem as ons al 19 op die prentjie
wou wees?

Maricia, Francios en Herno. 
Hierdie keer het mamma die 
hande-in-die-sakke-houding aangemoedig!

Maricia in verwondering - wat 'n ervaring!

Hierdie berge wat deel was van ons uitsig
aan die voorkant van ons huis,
 was soggens toe ons opstaan, nog
heeltemal skoon, sonder sneeu.  Na die sneeubui,
was dit 'n totaal ander prentjie.

Drie musketiers... Maricia, Erika en Mariska
Baie bly, opgewonde en dankbaar
vir hierdie wonderlike gebeurtenis.  Vir Erika die eerste
kennismaking met sneeu.

Comments

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...