Skip to main content

Koot se tand val uit!

Eisteddfod-stories

Hierdie week was baie besig, so na die langnaweek.  Bellville Hoërskool se Gemengde koor het Donderdag deelgeneem aan die Helderberg Eisteddfod,  hiervoor het hulle dubbel cum laude verwerf.  Ek verstaan nie lekker nie... Cum laude is veronderstel om met hoogste lof, beter kan nie, met hoogste onderskeiding te beteken.  Dubbel cum laude dan???  Ek verstaan egter wel dat dit 'n baie mooi erkenning is van die skoolkoor se harde werk en die opofferings van die leerders.  Dus, welgedaan, Maricia en BHS se koor!

Xander het deelgeneem aan die Internasionale Tygerberg Eisteddfod, hy het die gedig "Koot se tand val uit" voorgedra.  En met sy onlangse ervaring van eerste tand wat uit is en die tandemuis se briefie aan hom, was dit die perfekte gedig.  Hy het wel vannag wakker geword omdat sy maag seer is, maar toe ons vra of hy bietjie bekommerd is oor die gediggie voordra, was sy baie besliste antwoord: "Nee!".  Hy het baie oulik voorgedra en was een van 15 jong kunstenaartjies.  Die beoordelaar het hom met 94% beloon en ook oulike kommentaar op sy vormpie geskryf. 

Intussen het die ander kinders ook aan hul eie aktiwiteite deelgeneem, Herno het gister hokkie gespeel - 2-0 verloor, maar 'n pragtige wedstryd gespeel.  Hulle was baie op die verdediging, die ander span het hul eie 'astro-baan" by die skool en was duidelik baie beter.  Maar hulle het sowaar nie die oorwinning op 'n skinkbord gekry nie.  Vandag mag hy saam 'n groepie vriende Leeukop uitklim - dis wat 16-jariges doen as hulle mekaar se verjaarsdag vier...  Vir die pret!?!?  Maar hulle word geseën met 'n pragtige wintersdag.

Maricia was vanoggend aan die beurt met haar interskole hokkiewedstryd, ook op astro.  En het hierdie 0/14 meisies nie gespeel nie.  Puik wedstryd met 'n gelyk-op einde 1 elk.  Maricia het die doel aangeteken en dit was sommer 'n baie mooi stukkie spanwerk tussen die speelsters.  Maar ek was baie baie dankbaar en trots dat ons meisiekind, met eintlik net een hand op die hokkiestok!, hierdie pragtige lopie vir haar span kon afsluit met 'n spektakulêre doelpunt, hoog bo in die linkerhoekie van die doelboks!

Wicus en sy sokkerspan het hul aartsvyand aangepak, wel 4-1 verloor, maar so lekker gespeel.  Hulle was vir 'n slag nie koud en nat van die weer nie, maar warm en nat van die speel aan die einde van die wedstryd.

Jorienke het haar sosiale talente uitgeleef en lekker 'n verjaarsdagpartytjie bygewoon.  Hulle is oud genoeg om afgelaai te word en dan word daar speletjies gespeel en rondgehardloop.  Ons het die mooiste, strakhelder blou lug, koue sonskynweer (is dit moontlik?) en dit was sommer vir almal goed om buite te wees.

Ek sluit hierdie blog af met Xander se gedig:  geniet dit!!

Ma! Ma! Kom help! roep kleine Koot
Hier sit my tand in my snytjie brood!
Mamma moet my na die tandarts toe vat
dat hy dit weer vas kan plak!

Toemaar, Koot, jy kan maar jou neusie snuit
daar loer die splinternuwe tand reeds uit!
Gaan sit die tandjie in jou skoen
dan sien jy wat die muis gaan doen!
(Mart Meij)

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...