Skip to main content

Wins

Wat is wins?

As vrou van die direkteur van Axact Accounting (wow, dit klink lekker belangrik!), behoort ek sekerlik die antwoord op hierdie vraag te hê!  Ek het tog maar my HAT (verklarende woordeboek vir die wat nie die Afrikaanse afkorting ken nie) nadergesleep.  Interessant genoeg, daar is 2 verduidelikings vir die woord "wins".  Eerstens beteken dit iets wat jy win, of voordeel van het.  Tweedens verwys dit na die rekeningkundige verskil tussen inkomstes en uitgawes.

Behalwe vir Axact Accounting (vir wie wins natuurlik ook die uiteindelike oogmerk is), was wins vir die graad 7's en hul mammas hierdie jaar ook 'n doel op sy eie.  Ons het heelwat vermag hierdie jaar as dit kom by fondse insamel vir die graad 7-afskeid wat DV 8 Desember plaasvind.  Een van die items op die "wins-program" was die Kultuurfees (waaroor ons in 'n vroeër blog geskryf het).  'n Ander item was 'n "oupa-en-ouma"-oggend.  Die kinders het self met hierdie voorstel gekom (onder andere... sommige ander voorstelle was net nie haalbaar nie en is mooi versigtig deur die mammas afgewys).  Die plan was om hul eie oupas en oumas te nooi vir 'n oggend van bietjie uitkom en bederf.  En dan in die proses so 'n klein deeltjie van die erfporsie te bekom... vir 'n goeie doel natuurlik!

Hierdie oupa-ouma-oggend het toe gister gerealiseer.  'n Groep van 10 graad 7's sal tegnies gesproke 'n groep van 40 oupas en oumas oplewer!  Die "oes" was egter heelwat skraler.  Ons het 'n groep van 21 grootouers verwelkom.  As 'n mens die lysie afgaan, dan sien jy dat daar reeds 6 grootouers oorlede is, 10 woon nie in Bellville nie,  en 3 moes nog werk.  Maar geeneen van die 10 graad 7's het niemand gehad om te nooi nie.  Van die 21 grootouers teenwoordig, was daar vir elke kind ten minste een eie!  Dit is in my oë wins! Een van die kinders het selfs al 4 grootouers by die geleentheid ontvang!  Wat 'n geweldige wins! Twee ander kinders mog elkeen 3 grootouers ontvang, elkeen het 'n oupa gemis wat reeds 'n aantal jare al oorlede is. Nog wins! Want vir my, wat sonder grootouers grootgeword het, is dit 'n besondere seën, ja wins, voordeel, om te sien hoe ons kinders wel grootouers het vir wie hulle lief kan wees en wie vir hulle lief is!

Want sien, wins is werlik nie in die eerste plek in rand en sent uit te druk nie.  Wins beteken voordeel, voordeel is definitief iets tasbaars soos 'n ekstra spesiale geskenkie as oupa en ouma van ver af kom kuier.  Of ekstra drukkie en soen wanneer jy seergekry het.  Of ekstra kuiergaste as jy in die hospitaal lê of verjaar!  Wins of voordeel is ook die ekstra bron van kennis wat jy kan tap as jy 'n mondeling moet maak oor 'n groot natuurramp wat plaasgevind het (oupa kan vir jou vertel van die groot vloede in die 50s van die vorige eeu) of 'n taak oor sendingstasies (ander oupa kan vir jou sommer uit die vuis details gee oor 'n aantal, dan kan jy maar net kies oor watter een jy wil skryf)!  Wins of voordeel is ook die ekstra-geduldige hande wat klein dom handjies leer brei, hekel, borduur, koekbak of in die motorhuis help om skroewe vas te draai of 'n plankie te verf.

Wins of voordele is ook minder tasbaar- wat sal ons anders op ons T-hempies laat druk as ons nie kan sê "My pa weet baie, maar my oupa weet alles?"  Of "Nou't ek genoeg gehad... ek gaan by my ouma woon!" Of "As pappa nee sê, sal oupa en ouma ja sê!" 

Met die reël van die oupa-ouma-oggend het die mammas en kinders besluit dat dit nie nodig is om baie geld te maak nie.  Die grootouers is onthaal met koffie en koek, sappie en soutigheidjie en ook 'n ligte middagete (broodje-kroket).  Alles vir net R25 per persoon.  Want ook hierin sou wins 'n ander kleur kry:  ons het wins gemaak toe ons 'n lekker foto-raai-speletjie gespeel het en die grootouers na babafoto's van hul kleinkinders gekyk het (iets wat hulle miskien 13 jaar laas gedoen het!)  Ons het wins gemaak in die lekker lag wat opgeklink het toe die antwoorde van die kenmerke-per-kind-speletjie bekend gemaak is - ja nee, ek het geweet dis my kleinseun wie se skoolskoene ook nie hou nie, want myne was ook gedurig stukkend van al die balle en klippe skop!  Daar was wins in Maricia se lees van Psalm 121 voor ete en die saamsing van die Onse Vader.  Ons het groot wins gemaak in ons grootouer-harte, want hulle het die oggend baie, baie geniet.  Dit kon ons sien in die glimlagte. die trane en die drukkies wat uitgedeel is na afloop van die gesellige oggend.

En, het ons wins gemaak uit rekeningkundige oogpunt?  Ek weet nog nie, ons wag nog vir die inkomstes en uitgawes om van mekaar afgetrek te word...


Broodje-kroket reg om bedien te word, kompleet met gesonde versierings! 






Die 8 graad 7-meisies met hul lappie oor die arm - wafferse kelnerinne wat hul uitstekend van hul taak gekwyt het!
Posted by Picasa


Drie musikale kleindogters het op die fluit gespeel (dit klink darem mooi Bybels, nê?)

Comments

Ja, is dit nie 'n wonderlike wins vir kinders om wyse en liefdevolle grootouers te mag hê, hulle te mag ken en liefhê en hulle te mag onthaal nie! Dit was 'n pragtige "fondsinsamelings"-idee! Geluk graad sewes! Julle is pragtige kinders!

"Juffrou" Marietjie

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...

GLB-Kleuresport

Kleuresport - GLB: 3 Februarie 2012 Uiteindelik het die dag aangebreek...  Die kinders het al vir weke geoefen aan die krete en liedjies.  Die spanne is opgestel en die items verdeel.  In ons eie gesin is die lojaliteite ook verdeel:  Wicus is 'n by in die Geelspan en Xander is 'n panda in die Witspan.  Aan entoesiasme en wedywering het dit nie ontbreek nie, maar alles in 'n gemoedelike stemming... of so het ons gedink! Met die aanbreek van die groot geleentheid, kom ons tog agter hoe die wind waai, of miskien moet ons sê: ontdek ons jakkals se ware kleure!  Die Pandas en die Bye het langs mekaar op die pawiljoene gesit en die een het harder as die ander probeer skree.  Xander het met baie ywer en 'n houding van "ek-weet-hoe" aan alle singery deelgeneem en Wicus het saam met sy maat Tiaan gesorg dat die gr. 6-element duidelik hoorbaar en sigbaar was in die by-span! Albei seuns het lekker deelgeneem aan die atletiek ook.  Xander het na di...