Skip to main content

Sport(s)

Ons het hierdie maand baie aktiwiteite op die skoolkalender gehad om af te handel.  Toe ons aan die begin van die kwartaal die skoolkalender opstel, het ek nogals gedink, wow, dis 'n baie besige September wat vir ons wag.

Ons is nou alreeds verby die helfte van die negende maand van die jaar 2011, en die kalender word danig korter.  Daar by om die eerlike waarheid te sê, nog net 'n paar items oor:  rapporte klaar, oueraand en dan sluit die skool op 30 September, die langste kwartaal van die jaar is dan ook weer verby.

Ons het die maand September afgeskop met die graad 7's se Kultuurfees.  Maricia is in gr. 7 hierdie jaar, dus daar was groot betrokkenheid en opgewondenheid.  Ons het die kerksaal versier in die tema "Suid-Afrika teen Nederland".  Ons verversings was ook in hierdie tema:  daar was worsbroodjies en "broodje kroket" te koop vir 'n ligte aandete en na afloop van die fees, was daar tee of koffie met 'n koeksister of "sprits"-koekie.  Die aanwesiges het dit baie geniet - tradisionele items op die program was natuurlik die gediggies en klavierstukke wat die leerders vir die Internasionale Eisteddfod moes oefen.  Verder het ballet, viool, dwarsfluit, orrel, solosang en die 2 items van die gr. 7's die program gou volgemaak.  Maricia-hulle het in plaas van die idome-uitbeeld wat meestal gedoen word, besluit om gelykenisse uit die Bybel uit te beeld.  Die mense het gou geraai!  En dan om die gees vir die aand reg te kry:  het die graad 7's voor gaan staan en lekker Nederlandse en Afrikaanse volksliedjies gesing.  En voor 'n mens kon keer, het die gehoor saamgesing (soos dit eintlik ook die bedoeling was...)

v.r.n.l. Maricia, Monika, Leandré en Carla na hul deelname aan die Tygerbergse Internasionale Eisteddfod











Die volgende groot gebeurtenis op die program, was die gr. 6 en 7's se entrepreneursdag.  Elke jaar moet die senior klas van die skool 'n entrepreneursdag reël.  Hierdie jaar het die leerders besluit om al hul winste saam te gooi om daarmee 'n ekstra nag by die veldskool te kan betaal.  Dit beteken dat hulle einde van die jaar 5 nagte in plaas van die beplande 4 in die Sederberge sal oornag.  Dis eintlik baie mooi, dis ver ry Sederberge toe, dit maak dit wel baie meer die moeite werd vir die ouers wat ry en die brandstof uit eie sak betaal.  In die Sederberge leer die kinders alles oor arende, die Kaapse luiperd en ook oor skerpioene (kyk gerus na die webbladsy van die Cape Leopard Trust).  Die leerders het op ongeveer R350 na, amper die teiken van R2900 bereik!!  'n Pragtige voorbeeld van samewerking-en-ontwikkeling.  Maricia was in 'n groepie met 2 seuns, en saam het hulle die stalletjie "Go Nuts" beman,  hulle het neute en biltong van oupa se plaas verkoop, droë wors en tuisgemaakte crunchie-koekies.  Hulle het ook skyfskief en foosball (sokkertafel van Jacobus) aangebied as aktiwiteite.  Hulle het 'n allemintige R530 wins gemaak.  Baie geluk, Maricia, Jacobus en Tiaan!

Derde groot aktiwiteit het ons vandag met welslae afgehandel - die wintersportdag.  Ons was geseën met 'n pragtige stralende wintersdag, die sonnetjie het lekker gesteek en die windjie het gekeer dat ons te warm kry.  Ons mog die sportvelde van Bellville Hoërskool gebruik, wat die dag 'n baie professionele kleur gegee het.  Vier netbal-, 2 sokker-, 3 hokkie- en 2 handbalwedstryde het die oggend van half nege tot half een volgemaak. Maricia en Wicus was betrokke by 'n hokkiewedstryd elk, Maricia ook by netbal en Wicus ook by sokker.  Omdat ek self die 2 senior netbalspannetjies afrig, het ek nie Wicus se sokkerwedstryd gesien nie, maar hulle was lekker aan die rol met 'n 3-0 oorwinning.  Ek was bevoorreg om skeidsregter te wees (een van die 2) by Maricia se netbalwedstryd - dit was 'n pragtige wedstryd waar die meisies teen ongelooflike spoed gespeel het en pragtige, vloeiende netbal ten toon gestel het.  Hulle het dan ook met 'n welverdiende 17-4 geseëvier.  Ook by die hokkie het Maricia en Wicus hul teenwoordigheid laat voel - Maricia het 'n pragtige hou geslaan buite die doelsirkel, wat vernuftig deur haar spanmaat Carla in die doelhok ingetik is.  Wicus het 'n goeie aanval geloots en was gelukkig toe die bal teen die opponent se voet afgeskiet het en in die doelhok ingerol het. 1-0 vir beide wedstryde!
Graad sewe-netbalspan voor die wedstryd

Die sportdag bied ons jaarliks die kans om 'n bietjie ons standaarde te meet, alhoewel ons slegs teen Hebron Christenskool speel - hulle is ook maar 'n klein privaatskool.  Hierdie jaar het hulle 90 leerders van gr.1 tot 7, teenoor ons 64 van gr. 1 tot 7.  Dit gaan egter alles in baie goeie gees en die kinders geniet baie van hierdie aktiwiteit - dus is dit die organisasie en harde werk werd.

Intussen was daar nog 'n geslaagde bosberaad van die skoolbestuur met personeel, daar was 'n baie insiggewende praatjie oor selfbeeld deur 'n opvoedkundige sielkundige en ook 'n uiters leersame netbalwerkswinkel wat oor 3 Saterdae versprei is.  Alles by alles, 'n besige en voorspoedige September.  Om eerlik te wees, sien ek en die kinders almal nou baie uit na die wekie vakansie wat ons aan die begin van Oktober kry.  Hopelik kan ons teen daardie tyd ook die interne verhuising afhandel - daaroor meer 'n ander keer.

Sewevanderlindens groet met hierdie inspirerende woorde: If you dream big or if you dream small, it takes the same effort... so why not dream big?

Comments

Popular posts from this blog

All about blessings en seëninge

Count your blessings / Tel jou seëninge A word full of emotional value... blessings...  We always have the tendency to think BIG when we hear the word.  As if only big things or events can be counted as blessings.  But this past week, we have been blessed beyond believe.  Why?  Because of our children, of who they are and what they do.  Because of what people see when they look at our children.  Because of what WE see when we look at them:  BLESSINGS.  Gifts from our Heavenly Father, with whom He wanted to bless us... In die afgelope 10 dae, was daar in ons gesin ongelooflike drukte.  Vir vier van die vyf kinders was daar afsprake, kompetisies en deelnames.  Net Jorienke was salig onbewus en onbetrokke by al die geharwar om haar heen.  Vir haar was die speel by maats die hoogtepunte van haar afgelope twee weke... Herno het deelgeneem aan die Skiereiland se Top Skole Skaakkompetisie met 15 skole wat gekwalifiseer...

Pa van der Linden

Dit was Saterdagaand toe ons berig kry dat Pa opgeneem is in Bayview Privaathospitaal in Mosselbaai na klagtes van borskaspyne. Na 'n angiogram om vas te stel waar die oorsaak lê, was die diagnosis 'n verdikking in 'n hoofslagaar wat gevaarlik is as 'n bloedklont sou losskiet. Buiten hierdie hoofaar moes nog 'n aar vervang word. 'n Hartomleiding dus, met ten minste twee aargedeeltes wat vervang sou word. Sondagaand het die chirurg bevestig dat die operasie Maandagmiddag om 13h00 sou geskied. Sy laaste besoekuur voor die operasie mog tussen 11h00 en 12h00 daardie oggend wees. Ek en Christine het daarom Maandagoggend vroeg uit Bellville vertrek om voor die besoektyd in Mosselbaai aan te kom. Die reis was voorspoedig en Christine se twee dogters het hulle uitstekend gedra. Ons vergeet maar van Lise-Carien se braakepisode; nog nooit het ek Christine so vinnig 'n sakkie sien uitpluk om die maaginhoud op te vang nie. Kwart voor elf was ons by die adres van Christi...

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...