Skip to main content

Konsert

Vir 'n hele aantal weke al, hou Xander en Jorienke 'n geheim - wel, Xander hou die geheim en Jorienke probeer... 

Dis alweer daardie tyd van die jaar:  konsert by die speelgroepie!  Ons het so tussen die lyne al iets gehoor wat ons te wagte staan op Dinsdag 27 September, gelukkig vir ons is Jorienke soms nog 'n bietjie onsamehangend in haar stories en ons het nie nou ekstra moeite gedoen om agter die kap van die byl te kom nie.

En so breek die lang verwagte aand aan.  Dis lekker dat Susan dit hierdie jaar weer in die aand doen, dan kan die hele gesin saamkom en geniet van die kleintjies se konsert.  "Karalie Karool Speelskool" is nou al van 1999 deel van ons lewe (met 'n klein gapinkie in 2006-2008). Einde van 2012 is ons klaar, dit sal 'n hartseer oomblik wees... Toe Wicus klaargemaak het, het ons geweet daar's nog 'n Vanderlindentjie op pad - Wimpie, wat later Xander geword het (dis 'n storie vir 'n ander keer).  Nou sal ons kleine meisie die hekkie sluit wanneer sy graad R toe gaan; dalk gaan ons kleinkinders soontoe?  Intussen sal ons maar na (niggie) Anke se konserte gaan kyk, ter wille van die goeie herinneringe!


Dis darem baie lank om vanaf 12:00 die middag, wanneer mamma jou kom haal by die speelgroepie, tot 18:00 te wag voordat jy konsertsaal toe kan gaan!  Dinsdae is besige dae in die Vanderlinden-huishouding, dus het ons vir die kinders presies gesê hoe dit gaan werk:  eers as mamma terugkom van Wicus haal by die kunsklas, kan julle gaan bad en daarna trek ons konsertklere aan.  Toe raak dit uiteindelik tyd vir bad, en woerts-warts gly die twee deur die bad...  Niks van lekker speel met die
speelgoed in die rooi mandjie nie,  niks van lekker op jou magie lê en bietjie heen-en-weer gly op die gladde (nuwe) badbodem nie.  Allawêreld, vyf minute nadat ek die krane aangesit het om die bad te begin tap, was hulle al klaar (volgens hulle).  Ek kon dit uitrek met 'n aantal minute deur 'n uitgebreide inspeksie van agter-die-ore tot tussen-die-tone.  Maar nou ja, dan is dit ook regtig klaar.  Dus maar konsertklere aan ('n hele 30 minute voor ons ry).


Die konsert was in die tema van "Sirkus".  Xander was die ringmeester en mog die gaste verwelkom: "Dames en here, welkom by die sirkus!"  En daar staan meneertjie alleen op die verhoog, met 'n pragtige hoed op sy kop en met selfvertroue wat skrik vir niks...  En daarna kon hy een vir een die groepies sirkusartieste aankondig:  "Die hansworse!  Die leeus!  Die apies!  Die perdjies! Die akrobate!  En die Toiingkop!"  Gou was die verhogie vol en kon die sirkus begin.  Die ringmeester word toe dirigent en met heftige swaaie van die stok het hy die sirkusorkes gedirigeer.

 




Jorienke was 'n skattige perdjie - met baie swaai in die lyf!  Veral met die liedjie van die perdjies "Doebi-doebi-daai, lekker swaai!" Dit bly vir my ongelooflik wonderlik om te sien hoeveel so 'n kleintjie in minder as 'n jaar kan leer - 'n hele klomp liedjies wat ek nie (meer) ken nie, en sy sing dit sommer uit volle bors saam.  Lise-Carien en Lianne was saam met hul niggie ook dapper-stapper perdjies.

 








Moenie vra oor die pienk neus nie!  Perdjies se konsertklere was swart met 'n stertjie agter aan die broek vasgewerk. Tannie Susan het gesê mamma mag hulle met "glimere" (lees: grimering) opmaak om soos 'n perdjie te lyk.  Nou ja, perdjies het groot neuse en volgens Jorienke moes haar perdjie 'n pienk en pers neus hê (haar absolute gunstelingkleure).  Ons kon haar oortuig om die pers te los, aangesien ons nie pers gesigverf het nie... dus toe maar 'n groot pienk neus / snoet.
Orkes het gespeel, perdjies het gedans, hansworse het kattekwaad aangevang en die Toiingkop het "Morsjors" gespeel.  Daarna was die hansworse nog "Jan in die kas, hul voete sit vas"... Tot groot vermaak van die gehoor het die drie hansworse een na die ander met hul hanswors-hare gesukkel.  As dit nie afgeval het nie, het dit oor die oë geskuif of sommer net punt-in-die-wind gestaan.  But the show must go on, and it did...

'n Rukkie later was die ringmeester ook die roomysman en het die dogtertjies in 'n kring rondom hom gedans - nou wat kan 'n man dan nou meer vra??


Na 'n halfuur was alles verby en kon die kinders hul opgehoopde energie en "highs" afspeel en afhardloop.  Alles in die saal waarin die konsert ook plaasgevind het.  Dit het bedompig geraak, ongeveer 30 gesinne met hul kinders en ook alle familielede wat kom kyk het, maak gou korte mette met koel lug van buite.  Met hul konsertklere mooi opgevou terug in die sakkies, was die langmou hemp wat ek vir Xander ingepak het, gou te warm.  Hy het pappa vir 'n oplossing gevra, dié het gesê hy moet maar sy moue opstoot.  Dit was nie 'n haalbare oplossing vir Xander nie, hy kom vra maar vir mamma vir 'n ander plan.  "Want" sê hy, " dit help nie ek stoot die moue op nie, dis nog steeds dieselfde materiaal!"  Kaalbolyf was al genade, en toe kon hy na hartelus baljaar.  Ons is dankbaar vir Susan en Karalie Karool Speelskool - sy het al diep spore in ons gesin se lewens en harte getrap en ons sal hierdie herinneringe koester soos kosbare kleinnote.  Sewevanderlindens groet met 'n gaap...

 

Comments

Anonymous said…
Dit klink na groot pret, en ons stem saam, dit sal nooit vergeet word nie!
Ons hou van jul neuse en kostuums!
:-)
Die Meijerings
Anonymous said…
Liewe julle
Dankie vir die "storie" van die ringmeester en die perdjie. Ek kan my so inleef daarin en indink hoe dit was. Wens ons kon daar wees! Verlang so na elkeen, veral as iemand my vra wie hierdie op my kombuiskas is(jul gesinsfoto's). Dankie vir die foto's! Baie liefde en verlange en STYWE drukkies vir AL die kinders!
Oom Hannes, Tannie Marietjie, Leentjie en Annemie

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...