Skip to main content

Sewevanderlindens out and about

Ons het lanklaas ge-blog, maar dis nie omdat daar niks gebeur het nie...
Drie weke van Julie-skoolvakansie het verby gevlieg: kuiers, bordspeletjies, oorslaap, DVD's, Wii en wie weet wat nog!  Ons kan ook nie kla oor die weer nie, dit was absoluut fantasties.  Ek het soms eintlik loop en soek na wasgoed om te was, want dit het alles so lekker op die draad droog geword!

Die laaste Saterdag van die vakansie was bedoel om met al die kinders Kaapstad toe te ry en by die spesiale "Nederlandse Ambassade Fotograaf" paspoortfoto's van al 5 te laat neem.  Die plan was om so teen 12 uur te ry, half een in Kaapstad te wees vir die foto's en daarna bietjie see toe te gaan en die mooi weer te geniet. 

Ek het die piekniekmandjie gepak en het nog net ystee uit die yskas van die garage nodig gehad en dan kon ons ry... Met die oopmaak van die yskas om die ystee uit te haal, staan ek skielik met die deur in my hand (en dis werklik nie dieselfde as met die hoed in die hand nie...)  'n Noodkreet na Herman en ons bekyk die situasie van alle kante (wel hy kyk en ek klou aan die deur). Na byna 15 jaar se intensiewe gebruik het die deur se skarnier afgebreek.  Die onderste deur van die vriesgedeelte het tussen die kykery ook uitgeval, ek het nou nog 'n blou kol op my voetbrug om my daaraan te herinner.

Al met al het die tyd aangestap - die yskas se deur is tydelik herstel, maar die fotograaf het intussen sy deur gesluit...

Nuwe plan van aksie:  kom ons gaan deel die laaste pekanneute van oupa Plaas met die eekhorinkies van die Kompanjie-tuine en ry daarna bietjie Houtbaai toe.
Die albino-eekhorinkie
 
So gesê, so gedaan.  Die twee kleintjies was mal oor die "eethorinkies" en ek kon nie voorbly met pekans kraak sodat hulle dit kon "rondgooi" nie. 

Kyk die enetjie - is hy eekhoring of eekrobaat? Hy hang sowaar aan sy agterpote aan die boom en eet sy pekanneut so kop-onderstebo!  Dis werklik oulik om saam met kleintjies weer sulke dinge te doen, hul opgewondenheid werk aansteeklik.  Die ystee is geniet op 'n bankie onder 'n jare-oue boom-klim-boom.


  En tot groot vermaak van ander bankie-sitters, het Xander weer verander in "Nar"der en Jorienke ontpop in 'n model-in't-kleine.
       

Die kuier op Houtbaai se strand was net wat ons nodig gehad het, ons het tot vyfuur op die strand gebly - in die middel van Julie in die middel van die Kaapse winter!  Die seemeeue het chippies uit die kinders se hande kom pik en self die een van Xander se kop af kom haal.  Wicus het in 'n skone (alhoewel sanderige) strandmeermin verander en almal het hul longe vol vars, suiwer seelug getrek.
     

Wat 'n besondere voorreg om tyd te kry om in die middel van besige dagskedules en ook van geweldige spanning en moeites, rustig met die gesin buite te wees.  Die mikrobus was vir 'n week lank vol van Houtbaaisand, maar niemand het gekla nie - dit was saam met die foto's 'n salige herinnering aan 'n kosbare kleinnoot - sewevanderlindens groet.


Comments

Bly julle is weer op die lug! Dis so lekker om die foto's van die pragtige kinders te sien. Dankie dat julle iets met ons deel van julle lewe! Ons geniet dit en verlang baie.

Popular posts from this blog

GLB 1977-2017

Oupas en oumas, Graad 7 leerders, oud-leerders en onderwysers, ouers en gaste het gisteraand, Vrydag 18 Augustus, die 40-jarige bestaan van die Gereformeerde Laerskool Bellville gevier. Staaltjies is vertel, annekdotes gedeel, heerlik gelag oor stories van onderwysers, ouers, kinders en hul dinge. Die 1977 foto hieronder het kosbare herinneringe opgeroep. Ek staan op die eerste ry, tweede van links, een van die eerste Sub-A leerders in die skool se openingsjaar. Ek onthou hoe ek die jaar daarvoor saam met my Pa talle Saterdae by die ou huis wat die skoolvereniging gekoop het, deurgebring het en op my manier help “bou” het aan die nuwe skool. As 5-jarige knapie kon ek seker nie baie van hulp gewees het nie. Ek mog darem die sement wat tussen die bakstene uitgepeul het met koerante afvryf voor die mure gepleister is. Vanselfsprekend moes Ma my hande en vingers Saterdagaande met salf behandel soos wat die sement die vel gebars het. In die middae het mammas sop en brood...

Iets van alles

  Die jaar is alweer 7 weke oud... en baie het gebeur!     Om alles in een blog te probeer druk, sal wees soos om 'n gekondenseerde versie van Ps 119 in een vers te druk! Ek hou dit maar bietjie by die hoogte (en laagte-) punte...   Aan die einde van 2012 het ons nog Wicus se verjaarsdag gevier (dis nou mooi aansluiting by die laaste blog...).  Hy verjaar in die middel van die Desembervakansie - meestal beteken dit vir ons in die middel van ons kamp-vakansie.  Maar hierdie jaar was kamp buite die kwessie (bietjie moeilik as jy jou karavaan verkoop het en geen tent het nie...).  Om dit vir Wicus tog lekker te maak, het hy twee van sy beste maats (wat gelukkig nog nie of nie meer met vakansie was nie) genooi vir 'n film en 'n strand-piekniek.  Die film was 'n treffer, ons het dit almal geniet.  Die wind het erg gewaai hier in Bellville, maar op ons ou bekende plekkie by die Blue Peter hotel, sit ons uit die wind.  Die kin...

'n Verjaarsdag 1000

Hierdie een is spesiaal vir al my vriendinne daar buite: Elke jaar is dit vir almal van ons weer 'n moeite-volle soektog na 'n oulike geskenkie vir ons vriendin(ne) wat verjaar.  Almal weet dat op "ons ouderdom" daar nie veel is wat ons graag aan aardse dinge wil hê nie... die meeste van ons is eerder gereeld besig met 'n vermindering van aardse dinge!  Almal weet ook dat die aandra van 'n geskenkie glad nie noodsaaklik is vir die sukses van 'n verjaarsdagviering nie.  Aan die ander kant, vir almal van ons is dit lekker om te gee, en spesiaal-uitgedinkte geskenkies maak tog 'n mens se dag heel besonder. Hierdie jaar was ek besonder bevoorreg om van die mees oorspronklike, spesiale en verrassende geskenke te ontvang.  Ek ag myself besonder geseënd met sulke vriendinne (van hulle is familie ook nog... :-)), julle sal weet wie julle is!  Jul liefde en vriendskap is al vir my elke dag 'n geskenk waarvoor ek die Here alleen kan en ook wil dank!  Bai...