Skip to main content

Posts

Showing posts from March, 2009

Soutpanne en donderstorms

Dit was tyd om die soutpanne te besoek in die Noord-Kaap. Die eerste dag het ek die southope gaan meet op Loch Maree soutpan, sowat 180km noord-wes van Upington, op die pad wat ‘n mens sou ry na die Kgalagadi oorgrenspark. En dit was agtermiddag toe ek op pad was na Brandvlei dat ek dié storm mee maak net voor Kenhardt. Kyk, vir die grootste deel van die jaar is die Noord-Kaap droog. Loch Maree is geleë in ‘n semi-woestyngebied met ‘n reënval van 100mm to 180mm per jaar. Plase in dié streek word deur die Kalahari-Wes pyplyn bedien wat 83 plase (695 432ha) vanuit die Oranjerivier van water voorsien. Wanneer die wolke begin saamtrek op die horison in ‘n opstapeling van blomkole, en jy ry deur ‘n streek waar boere nederig afhanklik is van reën van die Voorsiener, dan kan jy weer saamgesels sonder om ingeslurp te word deur die klaagliedere wat ons daaglikse gesprekke toonset. Want sien, my pa het altyd gesê die eerste verantwoordelikheid van ‘n heer is om nooit te dink hy’s kaas (en dan i...

Pannekoek

Saterdag was dit pannekoekdag. Pannekoek met kaas en maalvleis, aarbeikonfyt en roomys, stroop, en die ou wenner, suiker en kaneel. En die wat meer gewaag het, het die maalvleis, kaas en stroop op een pannekoek geëet. Pannekoekdag. Dan dink ons aan reën wat teen die vensters klater, wind wat om die hoeke van die huis huil en aan die dakpanne ruk, en die skemerdonker van die donkergrys wolke wat dit noodsaaklike maak om agtermiddag al die ligte by die eetkamertafel aan te skakel. Saterdag was dit nie sulke weer nie. Soggens het Herno, Maricia en Wicus nog deelgeneem aan die jaarlikse swemgala tussen die GLB en Hebron Christenskool. Swemstyle het gewissel van versluipslag tot borsslag, vlinderslag en enige slag. Maar wat uiteindelik tel is deelname, sportmanskap, geraas en baie pret. Terug by die huis het die gebruiklike Saterdag doenlys gereed gelê om korter te word. Die voortuin was darem die vorige middag al gedoen, maar Saterdagwerk is nie beperk tot net tuindienste nie. Op die doenl...

Gereformeerde Laerskool hou Bellville skoner

Herno en Maricia het saam met die graad 4 tot 7 leerlinge van die Gereformeerde Laerskool gehelp om vullis op 'n oop stuk veld langs die skool op te ruim. Oor dié gebeurtenis het 'n artikel in die Tygerburger op 11 Maart 2009 verskyn. Die Gereformeerde Laerskool het met glimlagte op hul gesigte ander morsjorse se vullis op ’n oop stuk veld langs die skool opgeruim – want hulle gee om vir Bellville en wil ander aanspoor om hul voorbeeld te volg. Die skoolhoof, mnr. Erik van der Linden, sê die vervuiling van Bellville is opmerklik en die skool het besluit dit is nie net die Stad Kaapstad se plig nie, maar elke inwoner om na die omgewing se netheid om te sien. Die skool se gr. 4- tot gr. 7-leerders, altesaam 42 van hulle, is opgedeel in twee groepe wat elk vir twee ure lank die veld langs die skool, op die hoek van Frans Conradierylaan en Saasveldweg, skoongemaak het. Van der Linden glo om ’n voorbeeld vir sy skool se leerders te stel en het gehelp met die opruimsessie. Van der ...

Vyf van die sewe

Die vyf Van der Lindens, Boulders Originally uploaded by Sewevanderlindens As ons 'n blog wil byhou wat hoofsaaklik gaan handel oor die wel en wee van die sewe Van der Lindens in die Kaap, is dit gepas dat ons begin by 'n foto ons vyf kinders bymekaar. Hierdie foto is verlede jaar September geneem by Bouldersstrand in Simonstad. Die wêreldbekende pikkewynkolonie van die Kaap is hier gevestig. As 'n mens nog net pikkewyne in 'n dieretuin gesien het, is dit verfrissend om hulle in lewende lywe op die strand en rotse dop te hou. Dit was die moeite werd om hierdie juweel in die Skiereiland te besoek as deel van ons daguitstapie al langs die kusstrook van Muizenberg tot die Waterfront in Kaapstad.